Local newsNews

Veiligheid van kinders is ‘n prioriteit

'n Dag voor die ongeluk is daar 'n vergadering gehou waartydens daar bespreek is hoe hulle die veiligheid van die kinders wou verseker.

Private bus- en taxi-eienaars wat skoolkinders na en van Unity Primary School vervoer, het op 4 November ‘n vergadering gehou waartydens daar bespreek is hoe hulle die veiligheid van die kinders wou verseker. Dit was die dag voor die ongeluk waarin altesaam 38 leerlinge van dié skool beseer is.

Lana Coetzee, die skoolhoof het die dokument aan die NUUS gewys en sê dat dit nog afgeteken moet word.

“Daarin is bespreek hoe hulle die bestuurderslisensies van hulle bestuurders wil nagaan en die padwaardigheid van hulle voertuie wil toets omdat die leerlinge se veiligheid ‘n top prioriteit is.”

Die skool het geen ander vervoermiddels vir hulle leerlinge nie.

Bebloede tasse, huilende kinders en geskokte omstanders was die toneel wat die NUUS begroet het nadat een van die skoolbusse op die R24 (Albertina Sisuluweg) onderweg na die skool omgeslaan het.

Volgens Bonny Molefi, Stasiekommissaris van die Tarlton Polisiestasie het een van die bussie se bande gebars.

Coetzee is dadelik na die toneel, sowat 3km van die skool af, waar sy onmiddellik bystand aan die beseerde leerlinge verleen het voordat hulle deur noodpersoneel met ambulanse na drie verskillende hospitale geneem is.

“Daar was 61 insittendes in die skoolbus. Een leerling is na die Krugersdorp Netcare Hospitaal, 20 na Leratong Hospitaal en die ander 17 na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal geneem vir behandeling. Die busbestuurder het geringe beserings opgedoen,” sê sy.

“Die ander 23 leerlinge het op die toneel gebly totdat ‘n ander bus hulle gaan haal het.”

Sy sê dit was vir haar erg om die beseerde en huilende kinders so te sien.

“Hulle het met vrees in hulle oë na jou gekyk en wou net aan jou vasklou. ‘n Mens moes sterk staan en die plek van hulle ouers inneem.”

Vier kinders ontvang nog mediese behandeling.

“Ons is net dankbaar dat daar nie enige lewensverlies is nie. Ek wil nie weer deur so iets gaan nie,” vertel Coetzee.

Sy sê sy wil graag almal wat op die toneel gehelp het vir hulle bystand bedank.

“Die paramedici, polisie, personeel en almal was regtig wonderlik.”

Gerugte dat die skool vroeër uitgekom het soos daar in die dagblad Beeld berig is, is volgens Coetzee onwaar.

“Die skool het op die gewone tyd uitgekom. Die meeste van ons leerlinge gebruik die vervoerstelsels wat beskikbaar is om by die huis te kom, so dit sou nie moontlik wees om vroeër toe te maak nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button