Dit was bittersoet toe die personeel en leerlinge van Laerskool Kenmare verneem het dat hul geliefde hoof meneer Kallie Rautenbach vanaf 1 Januarie 2014 die leisels gaan oorgee.
“Ons gun hom ‘n nuwe hoofstuk in sy lewe met allerhande nuwe uitdagings, maar ons gaan hom mis,” sê beheerliggaamvoorsitter Chris Voster.
“Waarheen nou met Kenmare, was die vraag op almal se lippe. Hy het so ‘n prominente rol as hoof van die skool gespeel,” sê hy.
Hy noem wel dat die skool in bekwame hande sal wees tot tyd en wyl ‘n nuwe hoof by die skool aangestel word.
“Die skool het ‘n sterk en kundige bestuurspan en uitstekende adjunkhoof, mev Maryna Louw.”
Die beheerliggaam bedank mnr Rautenbach vir die voorbeeld wat hy vir almal was en noem dat sy aansteeklike passie vir die onderwys en kinders ‘n groot deel van sy nalatenskap is.
“Dis ‘n goed geoliede masjien wat hy agterlaat,” eindig Chris.
Kallie Rautenbach was vir nege jaar skoolhoof by Laerskool Kenmare.
