Local newsNews

Ontwikkeling wurg landbou in Tarlton

Ontwikkeling in Tarlton vernietig landbou.

‘n Atmosfeer van ontevredenheid heers onder Tarlton-inwoners omdat die gebied vir die soveelste maal ‘n speelplek vir ontwikkelaars gaan word.

Die eens rustige area wat bekend was vir sy varsprodukte-produsente en vleisboerderye het die afgelope drie jaar gereeld onder nywerheidsontwikkelaars deurgeloop. Die jongste sogenaamde ontwikkeling is ‘n vragmotorstilhouplek wat binnekort op die Rustenburg-pad (Vlakplaas 16Q-135) geskep gaan word.

Die plaas van Henry Davis, wat ‘n bestaan maak uit groenteboerdery, grens aan die stuk grond waar die vragmotorstilhouplek beplan word en volgens hom kan die ontwikkeling net nadelig wees.

Hy is skepties omdat sy boerdery na bewering reeds skade gely het weens die ontwikkelings wat die afgelope tyd in die gebied plaasgevind het.

Davis woon reeds 13 jaar in Tarlton, maar dit het die afgelope tyd vir hom in ‘n nagmerrie ontaard, vertel hy.

“Geboue het soos paddastoele om my plaas opgeskiet – twee olieprodusente, ‘n skrootwerf, dagsorgsentrums en staalwerke op my voorstoep, en nou die vragmotorstilhouplek! Wat nog?” vra hy.

Geraas, gemors, skadelike stowwe en ondraaglike reuke het deel van sy daaglikse roetine geword en sy groente ly skade as gevolg daarvan.

“Ek moes onlangs blaarslaai te waarde van R35 000 uitspit en vir kompos gebruik want die lugbesoedeling het dit opgevreet en verwoes,” vertel hy.

“Tarlton is Gauteng se kosmandjie en ons kan nie toelaat dat groot nywerhede hulle op ons landbougrond vestig nie,” voeg hy by.

VF Plus raadslid vir Mogale City, Amanda de Lange het ook haar ontevredenheid oor die verwikkelinge uitgespreek.

“Tarlton het die stortingsterrein van die Wes-Rand geword; ek en die inwoners gaan dit nie meer duld nie,” sê sy.

In ‘n brief wat duidelik daarop gemik is om Tarlton-inwoners te paai, het Mogale City se Departement van Ontwikkeling genoem dat daar aan streng kriteria voldoen sal moet word voordat die vragmotorstilhouplek goedgekeur sal word.

Die brief wat deur die bestuurder vir die departement, Glaudi Turner onderteken is, verduidelik dat onder meer die Departement van Landelike Ontwikkeling, Gauteng Departement van Vervoer en Omgewingsgesondheid geraadpleeg sal word voordat hersonering en ontwikkeling gedoen sal word.

Intussen sit Tarlton-inwoners magteloos en duim vashou dat Mogale City dié keer werklik die regte stappe sal doen en dat nie nog ‘n ontwikkeling oornag sal plaasvind nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button