Spesiale bederf vir bejaardes
Grain Care, 'n niewinsgewende organisasie het 430 bejaardes van die Wes-Rand by Usambara bederf.
Dit was ‘n geleentheid om bejaardes spesiaal te laat voel.
Só sê Mariaan le Roux van Grain Care, ‘n niewinsgewende organisasie, nadat 430 bejaardes van verskeie tehuise en organisasies aan die Wes-Rand die geleentheid gegun is om by Usambara in Muldersdrift ‘n bietjie bederf te kon word.
“Hierdie funksie is gewoonlik die hoogtepunt van baie van die bejaardes se jaar en hulle kon nie uitgepraat raak daaroor nie.”
Mariaan sê hulle was gaande oor die prentjiemooi lokaal waarin hulle gesit het en veral oor Manie Jackson wat hulle met verskeie van sy treffers vermaak het terwyl daar heerlik aan die kos gesmul is.
“Die mense het dit verskriklik geniet en ander het weer gesê dat dit ‘n heerlike bord kos was wat hulle nie aldag kry nie. Ander kon nie glo dat dit als gratis was nie.”
‘n Paar gaste het met lekker pryse soos geskenkpakke weggestap.
Volgens Mariaan was dit ‘n funksie wat met die genade van die Here moontlik was.
“Grain Care wil ook graag spesiaal dankie sê aan Cecile en die vriendelike personeel van Usambara vir die groot borgskap vir die saal, al die tafelversierings sowel as die driegangmaal vir elke gas wat ons gratis ontvang het.”
Van die ander skenkings wat hulle van verskeie besighede ontvang het, sluit in boeke en kaartjies, geskenkpakke, haarsny- en haarbehandelingbewyse, sjokolade en tydskrifte.
“Ons bedank graag vir elkeen wat ‘n skenking gedoen het, asook aan Mogale City Stadsraad wat een van die borge was en die personeel van Grain Carriers/ Unigrain/ Grain Logistics wat hulle ou boeke afgestof het en aan ons geskenk het.”
Die bejaardes van verskeie ouetehuise en organisasies het die geleentheid bygewoon. Dit sluit Randgate Tehuis, Huis Emmanuel, die Gereformeerde Kerk Forum, Moria Tehuis, Hulpsorg Suid-Afrika, Klub 50, Vriendskapstuiste, Luipaardsvlei Tehuis, Môreglans Tehuis, AGS Wilropark asook bejaardes van Munsieville, Kagiso en Azaadville in.
