Local newsNews

Ondersteuning was opvallend in Filippyne

Al het die meerderheid van die mense in die Filippyne als wat hulle gehad het verloor toe 'n tifoon hulle land getref het, het hulle mekaar steeds gesteun.

“Al het dié mense niks nie, het hulle ons steeds met ope arms en vriendelikheid begroet.”

So vertel Gerhard Nieuwoudt, bevelvoerder van die Krugersdorp Brandweerstasie van die tydperk van die sowat tien dae toe hy en nog drie nooddienspersoneel van die Wes-Rand Distrikmunisipaliteit in die Filippyne was nadat die land deur ‘n tifoon getref is.

Manie Gouws, Andrew Elliott, Asanda Nomala en Gerhard Nieuwoudt was as vrywilligers deel van Gift of the Givers se soek- en reddingspan wat na die eiland toe is om humanitêre bystand te verleen.

Daar word beweer dat die storm wat die Filippyne getref het, die ergste storm is wat nog gemeet is.

“Dit was wonderlik om te sien hoe dié land se mense, ten spyte daarvan dat die meerderheid se woonplekke verwoes is en geliefdes in die storm verloor het, mekaar steeds bygestaan het. Hulle wou ook als in hulle vermoë doen om dit vir ons so gerieflik as moontlik te maak om daar te help,” sê Gerhard.

Hy sê toe hulle in Palompon in die Filippyne aankom waar nagenoeg 50 000 mense deur die ramp geaffekteer is, was dit opvallend dat slegs agt mense gesterf het en dat sowat 90 huise deur die storm staande gebly het.

Manie wat reeds drie keer vantevore bystand gaan verleen het aan lande wat deur natuurrampe geteister is, sê dat hy weer gesien het hoe mense mekaar in ‘n tyd van nood kan ondersteun.

Hy en die ander vrywilligers kon nie regtig verdere bystand lewer in terme van redding nie en het gehelp om die hospitaal te herbou, beskadigde dakke van skole reg te maak en die paaie weer toeganklik te maak.

“Tydens die ramp was daar nie baie mans in die land om met die hestelwerk te help nie, omdat die meerderheid van hulle in ander lande werk om ‘n inkomste vir hulle familie te verdien.”

Manie sê dit was vreemd om te sien hoe nederig die mense is, veral toe hulle as die Gift of the Givers-span kos en medisyne uitgedeel het.

“Hulle was so gedissiplineerd tydens die oorhandiging – hulle het nie oor die goedere baklei nie en dit het gelyk of hulle mekaar bystaan en help.”

Andrew sê sy oë het in dié tydperk oopgegaan, al het dit hom emosioneel en fisiek uitgeput.

“‘n Mens moes by die tydsone aanpas en van slaap was daar nie regtig sprake nie. Jy moes by ‘n program inval wat nie bestaan nie, maar wat jy self geskep het.”

Asanda sê elke keer wanneer hy gaan om bystand aan lande te verleen, berei hy homself vir die slegte omstandighede voor.

“‘n Mens sien altyd hoe erg dit op televisie lyk en maak dan gereed om in daardie omstandighede te moet werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button