Local newsNewsSchools

Matriekuitslae met opgewondenheid in Krugersdorp ontvang

Krugersdorp-matrikulante is reg vir die toekoms.

Krugersdorp-matrikulante het lankal reeds die datum met rooi op die kalender gemerk, en teen uitslae-dag 7 Januarie was die opgewondenheid buite meeste skoolhekke hoog.

Die groot oomblik vir meeste matrikulante was om teen middernag 6 Januarie hul naam op ‘n lang lys in ‘n koerant te sien en vir sommiges was dit bloot ‘n formaliteit en vieringsgeleentheid om hulle sertifikate te gaan afhaal.

Die NUUS was midde in die vieringe tydens hul besoek aan ‘n paar skole in die area.

By Hoërskool Monument het ‘n groot groep matrikulante gewag dat die skoolhekke oopgaan en toekomstige studente het vir hul matrieksertifikaat-pas na die universiteit van hul keuse gewag.

Die skool wat weereens met ‘n 100 persent-slaagsyfer spog, het ook ‘n rekordgetal leerlinge wat met universiteitsvrystelling geslaag het.

“‘n Spoggerige 73,5 persent van ons leerlinge het met matriekvrystelling geslaag,” vertel skoolhoof Johann Calitz.

Die hoof vertel dat hy uiters trots op sy leerlinge en onderwysers is.

By Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs was dit duidelik dat die klas van 2013 reg is om ‘n positiewe bydrae tot die land se ekonomie te lewer.

Die leerlinge wat deel uitmaak van die skool se 96 persent slaagsyfer is volgens die Adjunkhoof vir Curriculum, Anton Strauss ‘n dinamiese groep mense.

“‘n Groepie leerlinge wat sedert hul Graad 10-jaar beurse van plaaslike mynmaatskappye ontvang het, sal in 2014 in ‘n stabiele werksomgewing instap,” vertel Strauss.

Hy noem dat sekere matrikulante se studierigtings ingenieurswese en onderwys insluit en dat hulle verkies om op eie bodem te studeer.

“In die verlede het ons baie leerlinge gehad wat oorsee gaan werk of studeer het maar vanjaar is daar ‘n begeerte om plaaslik terug te ploeg,” sê Strauss.

Hy noem dat bestuur gelukkig is met die standaard van die skool se slaagsyfer en dat onderwysers se harde werk veelvoudig met die syfers beloon is.

Town View High School se slaagsyfer het met 10 persent gestyg en 27 persent van die skool se leerlinge het universiteitsvrystelling gekry.

Skoolhoof Nhlanhla Bindela sê dat die skool goed gevaar het ten spyte van uitdagings.

“Een van ons grootste uitdagings is dat ons ervare personeel verloor het, maar dit het ons nie gestuit nie. Ons het indrukwekkende individuele prestasies,” sê hy.

Personeel by die onderskeie skole het ‘n beroep op druipelinge gedoen om nie mismoedig te raak of tou op te gooi nie en om hulle vraestelle te laat hernasien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button