Local newsNews

Minister veroordeel betogers se optrede

Die Minister van Minerale Hulpbronne het aan die betogers verduidelik dat selfs mynmaatskappye ingevolge die wet regte geniet.

Met vuvuzela’s, sang en danspassies het die Kagiso-betogers, sommige met plakkate, voor die Kagisanong Saal in Dastilestraat in Kagiso bymekaargekom om hulle afkeer van mynbedrywighede te toon.

Plakkate het uitbasuin dat die mynbedrywighede dadelik gestop moet word en dat die brutaliteit moet end kry, terwyl ander dink dat die polisie moet ophou om hulle menseregte te skend.

Die protesaksie, wat nasionale mediadekking geniet, het al so hand uitgeruk dat die Minister van Minerale Hulpbronne, Susan Shabangu, ingeroep is om orde te skep.

Minister van Minerale Hulpbronne, Susan Shabangu sê sy veroordeel die betogers se optrede.
Minister van Minerale Hulpbronne, Susan Shabangu sê sy veroordeel die betogers se optrede.

Shabangu het die betogers se optrede veroordeel en gesê dat maatskappye, insluitende mynmaatskappye, ook regte ingevolge die Grondwet het.Dié woorde het verskeie betogers baie ontstel omdat hulle meen die mynbedrywighede beskadig hulle eiendomme en wil daarom hê dat die mynmaatskappy Mintails sy bedrywighede moet staak.

Phillip Tsoeli (53) wat al van 1995 af in Kagiso woon, sê hy het sy huis self gebou en meen dat daar nooit vantevore sulke probleme was nie.

Hy sê die skietwerk wat die myne doen laat sy mure kraak en hy wil weet wie die skade gaan regmaak.

“Die skietwerk gebeur al van Oktober af. ‘n Mens kan die aarde onder jou voete voel beweeg. Wie het hulle die reg gegee om langs ons woonarea te kom myn?”

Shabangu sê hulle is besig om oplossings te soek vir die probleme wat die inwoners ervaar en sê dat Mintails se bestuur met die inwoners moet vergader en inligting oor die mynbedrywighede aan hulle gee.

“Op die oomblik is daar inspekteurs in die myngebied om toe te sien dat alles vlot verloop. Die maatskappy moet ingevolge die wet kennisgewings by die myngebied aanbring om mense in te lig dat mynbedrywighede daar plaasvind.”

Oor die geraas waaroor sommige inwoners kla, sê die Minister dat daar na hierdie versoeke gekyk sal word en as die geraasvlakke hoog is, sal Mintails dit moet beperk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button