Welkom by die Protie-familie
Laerskool Protearif spog met ‘n rekordgetal Graad 1-leerlinge.
Met trane en ‘n paar benoude kyke het ‘n handjievol Graad 1-leerlinge van Laerskool Protearif die eerste tree van hulle skoolloopbaan gegee.
Martin Lourens, die skoolhoof is in sy skik met die aantal haasbekkies wat nou deel vorm van die Protie-familie.
“Die skool spog met 109 Graad 1-leerlinge wat in vier klasse ingedeel is. Dit maak hulle tans die grootste groep in die skool.”
Hy sê dit is vir hom ‘n hoendervleisoomblik om die vonkel en opgewondenheid in die kinders se oë te sien.
“Dit maak ‘n mens reg om die skooljaar op die regte noot te begin.”
Al was daar ‘n paar trane toe ouers vir die dag van hulle kinders afskeid moes neem, sê Martin dat dit deesdae baie minder gebeur.
“Die leerlinge is in ‘n omgewing wat hulle ken omdat hulle reeds sedert Gr R begin skoolgaan. Dit help beslis met die oorgangsfase na Graad 1.
“Binne ‘n paar weke sal hulle sommer gou tuis voel en ‘n hegte band met hulle onderwyseresse begin vorm.”

In juffrou Linda Bakker se klas is die senuwees van grootskool gou gekalmeer toe koek en lekkernye aan die maatjies van Michael Prachin-Zorio uitgedeel is om sy sewende verjaardag te vier.
Vir departementshoof juffrou Martie Stoop se Graad 1-leerlinge het die dag met ‘n storie begin toe hulle na die verhaal van Noag se ark geluister het.
Vir meer foto’s kliek hier.

