Curro Krugersdorp se Graad 1-klas spog vanjaar met een tweelingpaar.
Auden en sy sussie Avida O’ Connor sien daarna uit om die jaar aan te pak en het heel gretig vir ‘n foto poseer om hulle opgewondenheid op kamera vas te lê.
Annemarie Lombard, uitvoerende skoolhoof, sê dat dit nie net die leerlinge is wat opgewonde is nie, maar dat die onderwysers ook lank gewag het dat die skool sy deure moet oopmaak.
“Die onderwysers het reeds verlede jaar met voorbereiding vir die nuwe skooljaar begin. Al ons sisteme is in plek om van hierdie jaar ‘n sukses te maak.
“Die getal Afrikaanse klasse het ook hierdie jaar verdubbel in vergelyking met verlede jaar.
“Daar is vanjaar 83 Graad 1’s wat twee Afrikaanse en drie Engelse klasse uitmaak.”
Annemarie sê dat die leerlinge in ‘n dubbelmediumskool die voordeel geniet dat hulle hul tweede taal kan slyp.
Sy sê die aanstelling van nuwe onderwysers is ook vir hulle ‘n pluspunt omdat die skool vanjaar met ‘n Graad 6-groep spog.
“Die bouwerk aan die laaste fase waarin die Graad 7-leerlinge volgende jaar sal skoolgaan, sal vanjaar voltooi word.”
Wat planne vir die jaar betref, noem sy dat hulle reeds vroeg met buitemuurse aktiwiteite gaan begin.
“Ons wil graag hierdie jaar ons sportprogram op ‘n goeie noot begin.”
