Wesrand Skool se nuwelinge beleef die eerste dag van die res van hul lewe
Wesrand Skool verwelkom hul nuwe Graad 1's met hope liefde.
Nadat Krugersdorp se bekende skool vir kinders met gestremdhede verlede jaar hordes nasionale toekennings vir hulle standaard van onderrig ontvang het, begin Wesrand Skool die nuwe akademiese jaar op ‘n hoë noot.
“Ons is slaggereed vir die jaar en opgewonde oor dit wat 2014 vir ons skool inhou,” vertel skoolhoof Thinus Coetzee.
‘n Groep van 21 Graad 1’s het vanjaar by die skool ingeskryf en volgens Coetzee is die doelwit beslis dat die een Engelse en een Afrikaanse klas teen die einde van die jaar kan lees en skryf.
Hy verduidelik dat die aantal inskrywings min mag lyk in vergelyking met ander skole s’n maar dat syfers bepaal word deur die skaal van leerlinge se gestremdheid.
“Die gemiddelde leerling meet ‘n vier op die gewigskaal en dit beteken in eenvoudig terme dat een van die kinders in ons Graad 1-klasse die aandag en onderrigondersteuning van vier kinders in ‘n ander skool benodig.”
Die eerste week vir die skool se Graad 1’s gaan een van oriëntering wees en ‘n paar psigomeriese en ander toetse sal met elke leerling gedoen word.
Graad 1-onderwysers Amanda Bennett en Wendy Lombard het tydens die NUUS se besoek op die eerste skooldag sommer gou die leerlinge gemaklik laat voel en die atmosfeer was meer een van opgewondenheid as angs.
Coetzee vertel dat die Graad 1’s die skool se trots is en dat hope aandag, liefde, gespesialiseerde ondersteuning en onderrig vir die groep uitgedeel sal word.
“Ons hoop om ‘n kwaliteit grondslag te lê sodat 2014 se Graad 1’s eendag top matriekuitslae kan lewer,” sê hy ten slotte.
