Norie-bemarker het groot drome vir dié skool
Karlien Steyn, die nuwe bemarker wil Hoërskool Noordheuwel se status as 'n topskool bevorder.
Om seker te maak dat Hoërskool Noordheuwel die status as top skool in Krugersdorp kry, is wat hulle nuwe bemarker Karlien Steyn se werk behels.
“Ek wil seker maak dat almal in die provinsie asook in Suid-Afrika van ons weet – dit is my droom!”
Karlien het haar BCom(Hons) in Bemarking aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU-Pukke) verwerf en het eers vir nagenoeg vier jaar vir die ATKV in Randburg gewerk. Sy verduidelik hoe sy deel van die Norie-familie geword het.
“Toe die pos vir Hoërskool Noordheuwel se bemarker geadverteer is, was ek ver swanger met ons seuntjie. Ek het nogtans besluit om aansoek te doen met die gedagte dat hulle my miskien in die toekoms sal onthou.”
Sy sê dat sy baie opgewonde was toe die skoolhoof dr Jac Fourie haar kontak en meedeel dat sy die pos gekry het.
“Ek het reeds in Julie 2013 by die Nories-familie ingeskakel en dit voel asof ek al jare lank hier werk.”
Karlien sê wanneer sy die geleentheid kry, hou sy daarvan om foto’s te neem, te reis en om tyd saam met haar familie deur te bring.
