Sjef raak per ongeluk verlief op kos
Adriaan Maree, uitvoerende sjef van die Roots Restaurant in Kromdraai het nooit gedink dat dit sy beroep sou word nie.
Toe die kookgogga die uitvoerende sjef van die Roots Restaurant by die Forum Homini Hotel in Kromdraai gebyt het, het hy hom behoorlik beetgekry.
Adriaan Maree het nooit gedink dat hy eendag sy brood gaan verdien deur ure lank in die kombuis doenig te wees nie.
“Dit het per ongeluk gebeur! Ek het dit nooit beplan nie, maar toe ek die bedryf betree het, het ek al hoe meer daarvan begin hou.”
Hy vertel dat hy alles wat hy in sy lewe kon doen, gedoen het en dit is waar hy tot die slotsom gekom het dat hy nie in ‘n kantoor sal kan werk nie.
Vir twee jaar lank het hy by die Grand Provence Restaurant in Franschhoek in die Wes-Kaap gewerk voordat hy sy sakke gepak het om in Londen as sjef by die Wild Honey Restaurant en daarna by die Hibiscus Restaurant te werk.
Vir hom was hierdie oomblikke baie leersaam omdat hy die geleentheid gekry het om van die talentvolste mense te ontmoet.
“Dit was daar waar ek agtergekom het dat ‘n loopbaan as sjef nie vir almal beskore is nie. Dit is beslis nie die tipe werk wat jy met Jamie Oliver sal assosieer nie, want die ure is regtig baie lank.”
Hy sê die restaurantbedryf is ‘n baie stresvolle bedryf omdat daar vreeslik baie druk op ‘n mens gesit word.
Nadat sy visum verstryk het, is hy terug Suid-Afrika toe waar hy by die Rust en Vrede Restaurant in Stellenbosch gewerk het.
Hy is reeds ‘n jaar en ‘n half die uitvoerende sjef van die Roots Restaurant in Krugersdorp en sê dat hy mal daaroor is om daar te werk.
“Ek is lief vir die atmosfeer omdat hierdie so ‘n natuurlike omgewing is. Die area bied vir ‘n mens soveel meer en dit maak my werk die moeite werd, veral omdat ons soveel vars produkte van die area af kry.”
Adriaan sê dat sy gunsteling gereg om te maak seekos is.
“Ek geniet dit vreeslik om daarmee te werk, veral omdat dit so uitdagend is. Met seekos het ‘n mens nie speeltyd nie, daarom is dit ‘n kuns om dié kos op sy beste te kry.”
Op die vraag of hy, nadat hy klaar gewerk het, self die geleentheid kry om heerlike maaltye te maak, lag hy en antwoord dat min sjefs daardie geleentheid het.
“As ‘n mens die heeldag met kos werk, dan voel jy glad nie nog lus om te kook nie.”
Die Roots Restaurant is 7 dae per week oop. Besprekings kan by 011 668 7000 gemaak word.
