Local newsNews

Nou gim-instrukteur ná hy self meer as 70kg verloor

'n Man van Krugersdorp is nou in 'n beroep wat hy nooit kon dink vir hom beskore sou wees nie.

“‘n Mens se maag is nie ‘n asblik nie, moet dit daarom nie gemorskos voer nie.”

Dit is een van die wenke wat Krugersdorp-inwoner Etienne du Bruyn (28) vir mense het wat ‘n gesonder leefstyl wil handhaaf nadat hy self reeds meer as 70kg afgeskud het.

“Ek het geëet omdat dit my beter laat voel het; ek was ‘n emosionele eter. Met ‘n besoek aan die dokter het iets in my geknak toe hy vir my sê ek gaan vir die res van my lewe op hartpille wees. Dit is waar ek besluit het om my ou lewenswyse prys te gee.”

Vandag is hy in ‘n beroep wat hy nooit gedink het vir hom beskore sal wees nie en is dit sy doel om mense wat soos hy met hulle gewig sukkel, te help.

Stian Weideman, eienaar van Sportcon, waar Etienne in Februarie verlede jaar met korrekte oefening en leefstylgewoontes kennis gemaak het, het sy deursettingsvermoë en harde werk raakgesien en besluit om hom ‘n pos as gim-instrukteur aan te bied.

“Ek het nog nooit met my gewig gesukkel nie en weet daarom nie iets van die emosionele aspek daarvan nie, daarom het ek Etienne gevra of hy nie hier by Sportcon wil werk nie omdat hy mense wat in dieselfde situasie is as waarin hy was, sal kan help en bystaan.”

Stian sê hy is ‘n rolmodel vir ander en hulle sien op na hom omdat hy suksesvol was.

“Mense wat nie normaalweg na ‘n ander gim sou gaan nie omdat hulle skaam is oor hulle gewig en bang is dat mense hulle sal aangaap en afknou, kry nou die geleentheid om iets daaromtrent te doen deur by ons aan te sluit. Etienne kry dan die geleentheid om sy ervarings met hulle te deel.”

Etienne wat weet hoe dit voel om oor sy gewig afgeknou te word, sê hy ken ook die struikelblokke wat in ‘n mens se pad staan wanneer dit kom by gewig afskud.

“Baie keer gebeur dit dat die skaal se naald nie wil sak nie, maar dit beteken nie dat jou harde werk verniet was nie. Dit kan gebeur dat jy in die proses van sentimeters ontslae raak of dat die vet in spiere omsit.”

Etienne oor wie daar in vandeesmaand se Men’s Health-tydskrif ‘n artikel is as die man wat tot dusver die meeste vet in hulle Belly-off afdeling afgeskud het, gee die volgende wenke vir mense wat soos hy van oortollige vet ontslae wil raak:

• Indien jy gereed is om daardie stap na ‘n nuwe lewenswyse te neem, moet jy bereid wees om alles wat sleg is opsy te skuif.

• Jou ingesteldheid moet van so ‘n aard wees dat dit jou doelwit is om van vet ontslae te wil raak, want as jou verstand nie daarop ingestel is nie, dan sal die lyf nie reg wees nie en dit is wanneer ‘n mens daardie stap elke keer uitstel.

• Drink genoeg water, eet gesond en oefen hard. Om gesond te eet is nie ‘n straf nie en ‘n mens raak gewoond daaraan en begin beter koskeuses te doen. Vergeet van ‘n dieet, want dit beperk jou.

• Mense wat gewig wil verloor dink dat hulle hulself van al die lekker kosse ontneem om gesond te eet en niks meer mag eet nie. Onthou net: een gesonde maaltyd gaan jou nie maer maak nie, net so gaan een gekulde maaltyd jou ook nie vet maak nie. As jy als insit, sal dit suksesvol wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button