Local newsNews

Gemeenskap se veiligheid word deur betogings bedreig — VF+

Die Vryheidsfront Plus sê hierdie betogings bedreig onskuldige inwoners en padgebruikers se veiligheid.

Die betogings oor swak dienslewering bedreig onskuldige inwoners en padgebruikers se veiligheid, terwyl hulle menseregte geskend word, sê Amanda de Lange, VF Plus raadslid in Mogale City en mediawoordvoerder in Gauteng.

Dit volg na protesaksie onlangs weer in dele soos Kagiso in Krugersdorp, en in die Princess informele nedersetting en Durban Deep in Roodepoort.

De Lange sê talle inwoners, wat nie betrokke is by die oproerigheid nie, se huise word deur betogers bestorm en dit het daartoe gelei dat baie inwoners na veiligheid moes vlug.

“Verskeie besigheidspersele is beskadig en heelwat staatseiendom is in die heersende geweld verwoes.”

Die Minister van Binnelandse Sake, Naledi Pandor, het die polisie gemaan om nie met geweld teen die betogers op te tree nie en noem verder dat ‘die betogers hulle regte uitoefen’.

In kommentaar daarop het De Lange gesê dat die Minister se hantering van die saak verregaande is.

“Minister Pandor misken die regte van inwoners en padgebruikers deur vir die misdadigers in die bres te tree terwyl sy geen melding maak van die regte van die publiek wat in lewensgevaar verkeer nie.”

Sy sê wetsgehoorsame Suid-Afrikaners is moeg daarvoor om in vrees te leef wanneer dienslewering-geweld uitbreek.

“Terwyl ons land brand, maak die ANC net leë beloftes met katastrofiese gevolge. Die land se ekonomie, dus elke burger wat hier woon en werk, ly onder die voortgesette stakings en betogings.”

Die Vryheidsfront Plus sê die ANC-regering moet ophou om wegkruipertjie met kiesers te speel en moet eerder daarop fokus om diensleweringsbeloftes na te kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button