Local newsLocal sportNewsSport

Jong tennisster wil nog groot hoogtes bereik

Robert Knipe, 'n leerling van Laerskool Kenmare het onlangs baie goed in 'n provinsiale skolekampioenskap gevaar.

Robert Knipe (12) sal eerder wil tennis speel as huiswerk doen.

So vertel hy oor sy liefde vir tennis nadat hy drie medaljes tydens die Gauteng Skolekampioenskappe verower het.

“Ek is baie opgewonde oor my prestasies,” sê Robert wat in sy Graad R-jaar vir die eerste keer met ‘n tennisrakket kennis gemaak het.

Intussen het hy ook sy ander sportsoorte soos krieket prysgegee om al sy aandag op tennis toe te spits.

Oor sy onlangse prestasies vertel hy dat hy in Oktober verlede jaar genooi is om aan die Gauteng-tennisproewe deel te neem waar hy deel van die Gauteng-Wes o.13-tennisspan was.

Met sy goeie tennisvernuf kon hy daarin slaag om ‘n plek in die finaal asook in die Gauteng o.13-tennisspan oop te speel.

Tydens dié span se bekendstelling by Wits Universiteit in Desember is Robert ook as die kaptein van die o.13-span aangewys.

Die kampioenskappe het op die sportterrein van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein plaasgevind. Fikile Mbalula, Minister van Sport en Ontspanning was by die openingseremonies teenwoordig.

Daar het die Gauteng-span tydens die enkel-, dubbel-, en gemengdedubbels-wedstryde stof in al die ander spanne van die ander provinsies se oë geskop.

Robert het 14 van sy 18 wedstryde tydens die kampioenskappe gewen en op hierdie manier gehelp dat die Gauteng o.13-span algeheel goud wen.

Tydens die kampioenskappe het die media soos SABC en e-tv verskeie kere met hom oor sy oorwinnings gesels.

Hy bedank ook graag sy afriger Hennie Kruger van die Krugersdorp Tennisklub in Waterfordweg, Kenmare wat hom met die regte afrigting gehelp het om sy prestasies te kon behaal.

“Ek hoop om eendag soos Rafael Nadal tennis te speel; hy is my rolmodel!” sê Robert wat met glinterende oë droom om tennis op ‘n professionele vlak te beoefen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button