Local newsNews

Sektor 7 stel beheerkamer bekend

Dit is gedoen om te probeer om misdaad die nek in te slaan.

“Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) moet hand aan hand met die polisie en sy gemeenskap saamwerk om misdaad te beperk.”

So sê Andy Mashaile, die Provinsiale Voorsitter van die GPF wat op Saterdag 25 Januarie by die bekendstelling van Sektor 7 se beheerkamer teenwoordig was. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ook die geleentheid bygewoon.

Lede van Sektor 7 Gemeenskapspolisiëringsforum saam met die Provinsiale voorsitter vir die GPF, Andy Mashaile en beamptes van Openbare Veiligheid by Mogale City.
Lede van Sektor 7 Gemeenskapspolisiëringsforum saam met die Provinsiale voorsitter vir die GPF, Andy Mashaile, polisie beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens en beamptes van Openbare Veiligheid by Mogale City.

Dié beheerkamer op die hoek van Lud Herschweg en Robert Broomstraat is opgerig in ‘n poging om misdaad die nek in te slaan en word deur fondse wat die GPF en die gemeenskap bymekaar maak, gefinansier.

John van Rooyen, voorsitter van Sektor 7 sê die houer is ‘n sentrale punt wat veiligheid vir die sektor se inwoners gaan help verseker.

“Dit word van 9vm tot 5nm deur vrywilligers beman, waarna die GPF se patrolleerders dit tot so 10nm sal beman.”

Hy sê hulle hoop om hierdie fasiliteit in ‘n 24uur-per-dag beheerkamer te omskep.

“Ons langtermynvisie is om kringtelevisiekameras in elke straat van ons sektor te installeer en dan so die strate van die beheerkamer af dop te hou.

“Dit sal help om registrasienommers van verdagte voertuie na te gaan en om die ander sektore daaroor in te lig.”

Daar is reeds kameras op die hoek van Dublin- en Bellstraat en van Lud Hersch- en Robert Broomstraat geïnstalleer.

Mashaile het hierdie inisiatief van die GPF geloof en sê dat die gemeenskap veilig in hulle woongebiede moet voel.

Hy het ‘n paar wenke verskaf oor hoe misdaad soos roof en moord beperk kan word.

“Mense wat rooftogte pleeg is mense wat ons ken en mense wat ons in diens neem. Moet dus nooit iemand aanstel as jy nie vingerafdrukke van die persoon en persoonlike inligting geneem het nie.”

Hy sê as die persoon se vingerafdrukke nie op die polisie se stelsel is nie, is dit wys om nie daardie persoon in diens te neem nie.

“Moenie ‘n leeu in jou huis bring wat vir jou en jou kinders sal eet nie. As hulle vingerafdrukke nie by die polisie is nie, bemoeilik dit die polisie se werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button