Derduisende rande se skade by Monnas
Hoërskool Monument se skade beloop al meer as R840 000 nadat vloedwater die skool getref het.
Johann Calitz, skoolhoof van Hoërskool Monument het die assessors ontmoet om die omvang van die vloedskade wat dié skool gely het, te probeer bepaal.
“Ouers en gemeenskapslede het gehelp om van die rommel op die rugbyveld te verwyder en verskeie skole in die omgewing het ook genoem dat hulle ons sal help waar nodig“ — Johann Calitz, Hoërskool Monument skoolhoof
Meer as R840 000 se skade is aan die skool se infrastruktuur aangerig nadat swaar reën op 31 Januarie in Krugersdorp uitgesak het.
Dit het daartoe gelei dat sekere sportfasiliteite vir eers nie gebruik kan word nie. Dit sluit die A-veld van die Ras van Rooyen sportveld in asook vier tennis- en drie netbalbane waar daar groot skade aan die fondasie aangerig is.

“Die swembad is ook beskadig, want iewers verdwyn die water. Dit sal meebring dat ons spesialiste moet kry om na die probleem te kom kyk,” verduidelik Calitz.
Hy sê die verspringputte is heeltemal verwoes en gewone infrastruktuur soos klaskamers, mure, die klubhuis en palissadeheinings benodig ook herstelwerk.
Calitz sê tot dusver het Mogale City Plaaslike Munisipaliteit hulle nog nie gekontak om te hoor waarmee hulle die skool kan bystaan nie, maar is positief dat die munisipaliteit hulle sal kan help.
“Die beheerliggaam sal nou met hulle [die munisipaliteit] in verbinding tree, want ons weet nog nie wat die versekering alles gaan dek nie.
“Die munisipaliteit moet natuurlik na die waterafvoerpype kom kyk wat onder die skool deurloop, want dit wil voorkom of hierdie pype iewers geblok is.”
Hy sê tydens nog ‘n reënbui op Maandag 3 Februarie was die skool se sportveld weer onder water en daar het ‘n stroom water by die gat uitgeborrel wat by die waterafvoerpyp gevorm het.
Intussen het die gemeenskap reeds na die skool uitgereik om bystand te verleen.
“Ouers en gemeenskapslede het gehelp om van die rommel op die rugbyveld te verwyder en verskeie skole in die omgewing het ook genoem dat hulle ons sal help waar nodig.”
Oor die atletiekseisoen wat in volle swang is, sê hy dat hulle steeds aan die oefen is, al beteken dit dat hulle net een gedeelte van die sportveld kan gebruik.
“Ons het ook gekyk of ons toestemming kan kry om Bob van Reenen-stadion te gebruik, al beteken dit dat ons sand vir die verspringputte moet aanry. Ons het reeds toegang tot die stadion verkry om te kyk watter fasiliteite daar is wat ons sal kan gebruik.”
Calitz sê die ramp wat hulle as skool getref het, sal hulle beslis nie onderkry nie en hulle gees vir die atletiekseisoen en die komende wintersportseisoen wat in Maar begin, demp nie.
Verwante artikels:
VIDEO: Vloedwater beskadig Monument se rugbyveld
