Local newsNews

‘n Juweel van goedere te koop

Hospice Gauteng-Wes het verskeie winkels wat 'n verskeidenheid van goedere te koop aanbied om terminaal siek mense in die gemeenskap by te staan.

‘n Skatkis.

Dit is wat ‘n mens die winkel van Hospice Gauteng-Wes in Ockersestraat, Krugersdorp kan noem.

Sitkamerstelle, elektroniese ware, ornamente, video’s, plate, beddens, sporttoerusting en baba-items is net ‘n paar van die items wat ‘n mens teen mededingende pryse – en soms splinternuut – te koop sal kry.

Verskeie interessante itens word by die Hospice Gauteng-Wes se winkel in Krugersdorp te koop aangebied.
Verskeie interessante items word by die Hospice Gauteng-Wes se winkel in Krugersdorp te koop aangebied.

Al die items wat in hierdie winkel en op nog ander persele te koop aangebied word, is deur die gemeenskap geskenk om Hospice – ‘n niewinsgewende organisasie wat palliatiewe sorg bied vir mense met terminale siektes soos kanker, HIV/ Vigs en motorneuronsiekte – in staat te stel om sonder enige ander inkomste met hulle werk voort te kan gaan.

“Die geld wat ons onder andere met ons winkels maak, word gebruik om vir ons werknemers, winkelassistente en verpleegsters ‘n salaris te voorsien,” sê Renzia van Zyl, die bemarkingskoördineerder.

Voorts word die geld gebruik vir die aankoop van medisyne vir pasiënte en om ‘n brandstofbydrae vir hulle sosiale werkers te kan gee wat gereeld besoeke by pasiënte gaan aflê.

Om met hierdie werk te kan voortgaan benodig dié organisasie hulp van enige soort van die gemeenskap.

“Ons is een van min Hospice’e wat ‘n diens heeltemal gratis aanbied, maar as ons nie die steun van die gemeenskap kry nie weet ons nie hoe lank ons dit sonder enige betaling sal kan doen nie,” verduidelik Renzia.

Sy sê om hulle te ondersteun is heel eenvoudig.

“Mense kan vir ons enige iets bring wat hulle nie meer wil hê of nodig het nie. As die goedere te veel of te swaar is om dit self na ons winkels te bring, kontak ons en ons sal dit met ons swaarvoertuig kom oplaai – al beteken dit dat ons selfs ‘n paar keer moet ry.”

Renzia sê as mense verhuis kan hulle selfs dit wat hulle nie na die volgende plek wil neem nie, vir hulle daar los sodat hulle dit kan gaan oplaai.

Nog ‘n winkel wat vir plesier sorg is die klerewinkel, drie winkels verder as Hospice se goederewinkel.

Die winkelassistent, Nthabiseng Sebogodi se vriendelikheid is wat ‘n mens met die intrapslag opmerk.

‘n Verskeidenheid van klere en skoene vir vroue, mans en selfs kinders word in dié winkel aangetref.

Vir boekeliefhebbers is daar ‘n hele vertrek vol boeke by Hospice se kantoor by Burgerstraat 053.

Daar is twee ander winkels wat ook ‘n verskeidenheid van goedere verkoop.

Die winkels is by Goldmanstraat 28 in Florida, Roodepoort en Hoofrifweg 80 in Randfontein.

Vir meer inligting oor die winkels en hoe skenkings gedoen kan word kontak Renzia by 076 332 7186.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button