Knaende Krugersdorp-Wes klagtes weer op die tafel
Ontstoke Krugersdorp-inwoners is moeg om te sien hoe die dorp agteruitgaan.
‘n Gemeenskapsvergadering wat deur die Sentrale Krugersdorp Wyk 20 se DA Raadslid Jakkie Naudé belê is, het Dinsdag 25 Februarie in ‘n platform ontaard vanwaar ontevrede inwoners hul griewe teen die plaaslike owerhede gelug het.
Volgens die agenda sou terugvoering gegee word oor die vordering wat met onder andere die lewering van munisipale dienste gemaak is, maar inwoners wou niks daarvan weet nie en het geëis dat gesaghebbendes in Mogale City aanspreeklikheid moet aanvaar vir die agteruitgang van die eens prag dorp.
Die volgende klagtes wat al vir jare eg aan Krugersdorp is, is weereens genoem:
• Foutiewe meterlesings
• Staatligte wat buite werking is
• Die swak toestand van paaie
• Die seksbedryf – prostitusie en mensehandel
• Dwelmhandel
• Onakkurate water- en elektrisiteitsrekeninge
‘n Ene meneer Tlapi Khomon – spesialis elektrisiën wat inwoners sou toespreek oor straatligte, onakkurate rekeninge en standaard heffings – het nie opgedaag vir die vergadering nie ten spyte van vele beloftes aan die raadslid dat hy daar sou wees. Naudé het wel gerapporteer dat hy Mogale City oorreed het om die gras op sypaadjie en in die veld te sny en dat hy tevrede is met die werk wat gedoen is.
‘n Sms-lyn is beskikbaar gestel vir diegene wat dwelmhandel en misdaad wil rapporteer. Naudé het elke persoon se klagtes laat notuleer, en hy het beloof om dit op te volg met die betrokke departemente in die plaaslike munisipaliteit.
