Hoërskool Monument is nie net bekend vir hulle ryk geskiedenis nie, maar ook omdat hulle daarvan hou om trotse tradisies voort te sit.
Een van dié skool se tradisies het vanjaar ‘n kwarteeu oud geword toe die 25ste groep Graad 8-leerlinge daarop voortgebou het.
Meer as 300 Graad 8-leerlinge het die geleentheid gehad om deur ‘n hekkie op die skoolgronde te stap – ‘n simboliese daad waardeur hulle as nuwe Monumentare verwelkom is.
Dié hekkie is deur die matriekklas van 1988 geskenk omdat hulle iets blywend wou agterlaat.
Esté Pienaar, jare lank reeds ‘n onderwyser by Monument, sê sy onthou nog hoe hierdie tradisie vorm aangeneem het en vandag nie net gebruik word om die nuwe Graad 8-leerlinge te verwelkom nie.
“Die matrikulante wou hê dat daar iets moes wees wat leerlinge en onderwysers se aankoms en vertrek by die skool sal aankondig.”
Sy sê Hennie Boshoff en Liezl Pienaar, destyds die hoofseun en -dogter het gevoel dat Hoërskool Monument op ‘n simboliese wyse binnegestap moet word sodat die Graad 8-leerlinge na vyf jaar as volwaardige matrikulante die wye wêreld kan instap.
“Die nalatenskap is vandag een van Monnas se unieke en trotse tradisies.”
Tydens die skool se jaarlikse reünies is die nostalgiese deurstap een van die hoogtepunte vir oud-Monumentare wanneer hulle hul alma mater besoek.
