Local newsLocal sportNewsSport

Stapprogram vir Maart en April

Begin die herfs seisoen op 'n verfrissende manier.

Gedurende die laaste gedeelte van die somer gaan die Krugersdorpse Stapklub twee heerlike staproetes aanbied.

Die eerste roete, Shelter Rock, word vir 8 Maart beplan.

Shelter Rock (Fouriesrus) aan die hange van Magaliesberg is op privaat grond geleë, omtrent 55km van hier af in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort. Shelter Rock en ander rotse is deur weerlig van die kruin van die berg losgeruk. Die enigste Knopkiere-gholfbaan in die wêreld is hier geleë. Dit is werklik ‘n pragtige roete. Daar word teen die berg uit gestap, tot op die kruin vanwaar selfs die mynhope van Krugersdorp (dié wat nog bestaan) op ‘n mooi skoon oggend sigbaar is.

Die uitsig hier van die kruin af is asemrowend mooi, selfs ‘n gedeelte van Hartbeespoortdam kan gesien word.

Daar word ook baie gemaklik op die kruin gestap, en die afstap is plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Daar word gewoonlik ook gebraai op hierdie stap.

Die volgende roete, Groenkloof, word vir 12 April beplan.

Dit is een van ons gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete, met sy effens moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus. Daar is rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas; ‘n fees vir die oog.

Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi, en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op ons roetes nie. Jy kan nog ‘n trein daar onder sien verbyry, en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en hier word daar gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.

Vir verdere besonderhede kan Babsie by 083 544 1102 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button