Beurtkrag opgehef: verbruikers gemaan om steeds spaarsamig te wees
Eskom het aangekondig dat beurtkrag vir eers opgehef is, maar dat dit ter enige tyd weer in werking gestel kan word.

Inwoners en besighede in Krugersdorp kan weer vir ‘n slag asemhaal na die skielike aankondiging deur Eskom dat beurtkrag gister (6 Maart) onmiddellik opgeskort is.
Eskom het gesê dat die noodtoestand om beurtkrag toe te pas om 10nm gister opgehef is, maar het verbruikers steeds gewaarsku om elektrisiteit spaarsamig te gebruik.
Nywerhede word steeds gevra om hulle kragverbruik met tot 10 per sent te probeer verminder.
Beurtkrag die rede vir kragonderbreking
6 Maart 2014
‘n Skielike kragonderbreking laat Krugersdorp inwoners na hulle hare gryp omdat hulle nie daarvoor voorberei het nie.
Die kragvoorsiener Eskom het vanoggend 6 Maart ‘n noodtoestand verklaar en inderhaas met beurtkrag begin omdat die steenkoolvoorraad glo nat is weens die swaar reën van die afgelope week, sê Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom.
Volgens die beurtkragskedule op Eskom se webblad (maak seker jy kies Mogale City op albei kere) sal beurtkrag tot omtrent 2 April toegepas word.
Krugersdorp-inwoners kan hulle dus regmaak om tot dan enige dag reeds van 6vm tot 10.30vm sonder elektrisiteit te wees.
Eskom sê beurtkrag word slegs as ‘n laaste uitweg toegepas wanneer hulle nie genoegsame elektrisiteit kan voorsien nie.
Talle inwoners het op sosiale netwerke soos facebook en twitter hulle misnoeë met dié skielike besluit te kenne gegee.
Die NUUS verstaan dat daar reeds na 8vm ‘n kragonderbreking in die hele Krugersdorp-area ondervind word.
Sonia Bloem van Mindalore sê dat die kragonderbreking haar haar oggendkoffie ontneem het.
‘n Inwoner van Lewisham, Charles Koen sê hy moet na sy baba omsien en dit voel vir hom of Eskom nie vir sy medemens omgee nie.
Regardt Pretorius van Noordheuwel sê die beurtkrag verhinder hom om die Oscar Pistorius-moordsaak te volg.
Eskom doen ‘n beroep op verbruikers om dringend hulle geisers, swembadpompe en alle nie-noodsaaklike toestelle deur die dag af te skakel om die impak van beurtkrag te verminder.
“Indien die besparings van so ‘n aard is dat die situasie verbeter, sal beurtkrag vroeër beëindig word,” sê Lerato Nkosi van Eskom se Korporatiewe Aangeleenthede in die Gauteng provinsie.
Kragverbruikers word gemaan om steeds alle elektriese verbindings as lewendig te beskou omdat die elektrisiteit te eniger tyd weer aangeskakel kan word.
Intussen word nywerhede gevra om hulle kragverbruik met tot 10 per sent te probeer verminder.
Die NUUS sal sy lesers op hoogte hou van verdere verwikkelings.

