Local newsNews

Glam Guru kuier in Krugersdorp

Hannon Bothma deel sy mooi-maak wenke in Krugersdorp.

Die bekende mode fundi, Hannon Bothma, wat veral bekend is vir sy program waartydens hy alledaagse vroue optof, het Dinsdagaand 11 Maart sy gremering- en stileringtassies gepak om in Krugersdorp te kom kuier.

Voor ‘n vol gehoor by Hoërskool Monument het die Glam Guru van sy mooi-maak geheime gedeel en op ‘n humoristiese manier raad gegee.

Krugersdorp inwoner Stephanie van Zyl was die gelukkige wenner van ‘n mooi-maak sessie wat op die verhoog plaasgevind het.

‘n Gehoor van oor die 300 vroue se monde het oopgehang oor die transformasie wat voor hul oë gebeur het en na ‘n lekker kuier het Hannon sy handtekening uitgedeel en ‘n rits vrae beantwoord.

Volgens een van die vyf lede van die skool se matriekkommitee, Ingrid Herbst, wat die funksie gereël het, het Hannon se kuiertjie meer as een doel vervul.

“Nie net was dit ‘n aand van lekker kuier saam ‘n groep vroue of ‘n insigewende kykie op mode en skoonheid nie, maar daar is ook geld vir die skool se matriekfonds ingesamel.

“Opbrengs van kaartjie verkope het na die fonds gegaan wat uiteindelik tot voordeel van die skool gebruik sal word,” vertel Ingrid.

Sy noem die skool se infrastruktuur het baie herstelwerk nodig na onlangse vloedskade van ongeveer R5 miljoen en dat die geld heel moontlik daarvoor aangewend sal word.

Die span ouers op die matriekkommitee van Monnas wat die aand moontlik gemaak het sluit in Ingrid Herbst, Dalene Loock, Ailsa Holtzhausen, Rochelle Nel en Elsabe Reynders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button