EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Bekroonde pianis tree hier op – wen sy jongste album

As 'n klein seuntjie het Rocco de Villiers die eerste keer met 'n klavier kennis gemaak, en vandag speel hy die musiekverhoë aan die brand.

Hy is ‘n pianis, musiekregisseur, vervaardiger en ‘n skemerkelkie-fynproewer, maar om agter ‘n klavier te kan inskuif bly vir Rocco de Villiers die bevredigendste.

Hierdie kunstenaar wat in die klein dorpie Harrismith in die Vrystaat grootgeword het en nog ‘n tjokkertjie was toe hy eerstehands met ‘n klavier kennis gemaak het, speel vir langer as 15 jaar reeds musiekverhoë aan die brand.

“Om vir mense klavier te speel en te sien hoe hulle my musiek geniet, is ‘n groot voorreg,” vertel hy.

Sy elfde instrumentale album Countrykeys is onlangs vrygestel en hy beskryf dit as ‘n wonderlike gevoel as hy na al sy harde werk uiteindelik sy eindproduk mag vashou.

“Dit voel eintlik soos my eerste,” skerts hy.

Countrykeys is Rocco de Villiers se elfde vrygestelde album.
Countrykeys is Rocco de Villiers se elfde vrygestelde album.

“Die opgewondenheid, die onsekerheid en die lekkerte is om die eerste kopie van die album in jou hande te kan vashou – ek wil eerlikwaar nooit ophou CD’s maak nie!”

Die tema van liefde word op hierdie album in die vorm van countryklanke saamgevat en dit is iets wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, verduidelik Rocco.

“Behalwe as jy ‘n klip is. Die tema van liefde is hier vir mekaar, ‘n spesiale persoon, die stad, die Vrystaat en ook die Skepper.”

Die eerste snit op sy album heet Roccobilly, wat mens laat wonder waar dié titel sy oorsprong gekry het.

“Met hierdie snit steek ek ‘n bietjie draak met die Hillbilly-kultuur en mense wat, nes ek, van die Vrystaat kom. Dit is ook só genoem omdat dit vir my lekker is om my naam te gebruik.”

Oor vier jaar sal dit reeds twintig jaar wees sedert sy eerste album Screentest, waarvan hy uit desperaatheid self die omslag binne geplak het, verskyn het.

Hy erken dat alhoewel hy al so lank in die musiekbedryf is, dit steeds nie makliker word nie.

“Ek verander, mense verander en die wêreld verander. Vyftien jaar gelede kon ek nie glo dat mense kom kyk het hoe ek klavier speel nie – eintlik kan ek dit steeds nie glo nie. Dis ‘n wonderwerk en ek sal aanhou solank ek kan.”

Sy resep om vir so lank suksesvol te bly, verduidelik hy, is om aan te hou, uit te hou, dinge te probeer en om aan te hou om dit te probeer.

“So het my loopbaan baie oor die jare gegroei. Ek speel deesdae baie minder note, want wanneer jy jonk is wil jy afshow met hoe goed jy is. Dis nou vir my belangriker om mense se emosies met my musiek aan te raak, eerder as om te wys hoe goed ek is.”

Hy sê hy skryf ook deesdae baie van sy musiek self.

“As musiek nie ‘n tune het nie, verstaan ek dit nie. As ek my eie musiek skryf is dit meer persoonlik omdat ek dit baie makliker aan mense kan oordra.”

Sy tiende album Stunning is vir ‘n Ghoema in die kategorie Beste Instrumentale Album benoem en hieroor is hy in die wolke.

Ghoema Rocco De Villiers 2014

“Nominasies en toekennings is fantasties en lekker, maar ek werk gewoonlik nie daarvoor nie. Ek werk vir die mense wat my deur die jare so goed ondersteun. Hulle teenwoordigheid is vir my die grootste toekenning.”

Maar wanneer Rocco wel genomineer word en toekennings vir sy musiek ontvang, sê hy dit voel dan vir hom of hy ‘n groot verjaardagkoek kry.

Hy praat ook met lof van sy Krugersdorp-aanhangers.

“Mense van hierdie omgewing was my nog altyd goedgesind en ek is mal oor hulle. Hulle is eerlik en wys wat hulle voel.”

Sy paadjie na Krugersdorp eindig lankal nie meer net by vertonings nie. Dit is hier by Hollywood Costumes waar hy sy beste uitrustings kom uitsoek.

“Die eienaar Heidi du Toit is ‘n slim, wonderlike en goeie mens. Sy ken haar werk en help my verskriklik baie.”

Hy sê om daar te wees is soos om in ‘n winkelsentrum vol wonderlike items te wees.

Al het hy baie min tyd vir ‘n sosiale lewe, sê Rocco dat hy steeds daarvoor tyd maak.

“My handjievol vriende is vir my goud werd. Daar is niks soos ‘n lekker tjoppie, ‘n doppie, geselskap en natuurlik om te lag om dit vir my die moeite werd maak nie.”

Rocco tree op 29 Maart om 7nm by The Grill Shop in die Noordheuwel Winkelsentrum op die hoek van Robert Broomweg en Lud Herschstraat op.

Om plek te bespreek bel Ria Steyl by 072 566 1277 of by 011 954 4755.

Kaartjies kos tussen R80 en R150.

Wen wen wen

Die NUUS het vyf kopieë van Rocco se jongste album Countrykeys, met die komplimente van Universal Music, om weg te gee. Om in aanmerking te kom vir die prys, beantwoord slegs die volgende vraag voor 28 Maart deur jou besonderhede onder dié artikel te gee: Wat is die naam van die album waarvoor Rocco vir vanjaar se Ghoema-toekennings genomineer is?

Wenners moet bereid wees om die prys by die NUUS se kantoor te kom afhaal en sal telefonies in kennis gestel word.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button