NewsSchools

Monnas reg vir rugbyseisoen

Hoërskool Monument se nuwe rugbytruie is onlangs bekendgestel.

Hoërskool Monument het onlangs sy nuwe rugbytruie bekendgestel en die spelers sien baie daarna uit om die rugbyseisoen vanjaar behoorlik aan te pak.

Johann Calitz, skoolhoof, sê dat rugby hom nog altyd baie na aan die hart lê en is trots daarop as die skool sy goeie verhouding met hulle borge kan voortsit.

Dit is vanjaar reeds die sewende jaar dat Genesis Projects, ‘n plaaslike eiendomsontwikkelingsmaatskappy, dié skool help deur as die borg vir hulle truie op te tree.

Hierdie seisoen sal Monument se eersterugbyspan, bekend as die Wit Bulle, nie net in wit truie speel nie, maar ook in swart.

Die swart truie sal vir aandwedstryde en wanneer die wit truie met ander skole s’n bots, gedra word.

Charl Fitzgerald, die uitvoerende voorsitter van Genesis Projects sê dat dit vir hulle as maatskappy ‘n groot voorreg is om die skool se rugbyspanne se hoofborg te wees.

“Ons as maatskappy het ‘n groot passie vir rugby en dit is lekker om deel van ‘n skool te wees wat daardie passie met ons deel en dan nog boonop een van die top rugbyskole in die land is.”

Southern Business School (SBS) is ook vanjaar die trotse borg van die A-spanne se rugbybroeke.

Christo Swart van SBS het op sy beurt gesê dat hulle geeërd voel om deel van so ‘n dinamiese skool te kan wees en is trots daarop om as borg op te tree.

“Ons hoop dat hulle ‘n goeie jaar sal hê.”

Rinus de Jager, skoolwoordvoerder het tydens die geleentheid gesê dat hulle graag ook vir PVM Nutritional Sciences wil bedank.

Die maatskappy gaan seker maak dat die skool se rugbyspelers te alle tye die nodige voedselaanvullings tydens oefensessies en by die huis kry om die spelers vir topgehalte rugby voor te berei tydens die seisoen.

Jan van Rooyen, gimnasiumafrigter by die skool, sê die rugbyspelers oefen vyf dae ‘n week in die skool se gimnasium en vier dae op die rugbyveld.

“Ons gebruik dus hierdie aanvullings om te verseker dat ons spelers die regte produkte gebruik, want verbode middels het deur die jare ‘n groot ergenis geword.”

Hy sê dat ‘n mens nooit heeltemal seker is of die produkte wat by apteke te koop is, middels bevat wat eintlik nie vir sportdoeleindes aanvaarbaar is nie.

“Ons probeer daarom die situasie van verbode middels vermy.”

Monument het omtrent ‘n besige rugbyskedule vanjaar. Daar gaan 39 wedstryde, insluitend proewe, gespeel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button