Local newsNews

Ma van ‘n verslaafde praat

Dwelms het haar seun se lewe só begin regeer dat sy nie meer weet wie haar kind werklik is nie.

Enige ma het ideale en drome vir haar kinders, maar wat staan haar te doen as hulle in die kloue van dwelms vasgevang word?

Annalene Mandl (44) van Luipaardsvlei het in ‘n openhartige onderhoud moed bymekaar geskraap om haar stryd met haar seun (24) se dwelmverslawing met die gemeenskap te deel. Sy wou egter nie toelaat dat die news ‘n foto van haar neem nie.

“Ek wou gehad het dat my seun, wat op skool akademies uitgeblink het en ‘n sukses van sy lewe sou kon maak, sy drome moes uitleef en ‘n normale lewe lei.”

Maar in sy Graad 9-jaar raak hy toe met dwelms deurmekaar wat sowat vier jaar gelede sy lewe begin regeer het.

“In die begin wil jy jouself oortuig dat dit nie waar is nie en dat jou kind nie met dwelms te doen het nie, maar later moet jy dit as realiteit begin aanvaar.”

Sy vertel dat daar baie dae was dat sy haar oë bloedrooi gehuil het omdat sy nie geweet het wat sy as ouer verkeerd gedoen het nie.

“Jy voel soos ‘n hond omdat jy dink dit is alles jou skuld. Ons as gesin het nie ‘n maklike lewe gehad nie en ek dink hy het daardeur verwerp gevoel. Hy het heel moontlik ‘n tipe aanvaarding ervaar toe hy by dwelms betrokke geraak het.”

Mandl sê haar seun het al verskeie kere gesê dat die dwelmhandelaars sy vriende is. “Natuurlik gaan hulle vriendelik wees en jou oortuig dat hulle jou vriende is, want jy is hulle kliënt.”

Met ‘n knop in haar keel vertel sy dat haar seun nie meer die kind is wat sy ken nie.

“Jy sien jou kind, jy leef saam met hom, maar dit is nie jou kind nie.”

Sy sê hy het oornag in ‘n manipuleerder verander wat so oortuigend jok dat sy self begin twyfel.

“Hulle hou daarvaan om jou skuldig te laat voel oor al die dinge wat in hulle lewe skeefgeloop het as gevolg van jou besluite en die lewensomstandighede.”

Hy het ook baie aggressief geraak en het al uit woede goed in die huis gebreek.

Mandl sê sy het al gevoel om hom uit haar huis te skop, maar dit sal alles net vererger.

“Die dwelmhandelaars sal hom beetkry en sy lewe heeltemal verwoes. Ek wil nie heeltyd wonder waar hy is en eendag ‘n oproep ontvang om my kind by die lykshuis te gaan uitken nie.”

Om te baklei dat hy dwelms moet los is ook nie ‘n uitweg nie.

“Ek het alles probeer – tot navorsing op die internet gedoen om uit te vind wat ‘n mens kan doen. So het ek tot die slotsom gekom dat daar nie regtig iets is wat ‘n ouer kan doen nie.

“‘n Mens kan hulle kort-kort na ‘n rehabilitasiesentrum toe stuur, maar as hulle nie self van dwelms bevry wil word nie sal dit net ‘n mors van geld wees.”

Tot dan, sê Mandl, sal sy net bly lief wees vir hom.

“Hy weet wat hy doen is verkeerd, maar hy sê hy doen dit omdat dit vir hom lekker is. Ek is die een vir wie hy die liefste is, maar ook die een vir wie hy die meeste haat.”

Die dwelmhandelaars is ook volop in die strate. Hulle herken haar kar en waai vir haar.

“Hulle weet hulle het my kind in hulle visier en buit dit uit deur vir my te glimlag en vir my te waai. Die polisie is ook baie hier te sien en dit lyk nie vir my of hulle enige uitwerking het nie.”

Sy sê in die begin het die dwelmhandelaars weggekruip, maar hulle het baie mak geword.

“Ek wens net die mense wil begin wakker word en sien wat besig is om te gebeur. Dit maak nie saak waar jy bly nie, jou kind kan ook met dwelms deurmekaar raak.”

Mandl sê die familie van verslaafdes wat nie meer weet watter kant toe nie kan haar kontak by 082 498 5731 met die oog daarop om ‘n ouer-ondersteuningsgroep te vorm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button