Fotogallery: Gesin sterf en voetgangers beseer in afsonderlike voorvalle
'n Babadogtertjie en haar ouers is die naweek op 'n ongelukstoneel dood verklaar.
Die nooddienste se hande was hierdie naweek vol met drie ernstige insidente wat op Krugersdorp se paaie plaasgevind het.
‘n Babadogtertjie en haar ouers is Saterdagaand op ‘n ongelukstoneel dood voordat paramedici van ER24-ambulansdienste bystand kon verleen.

Luyanda Majija, ‘n woordvoerder, sê dat die gesin in Malibongweweg in Nooitgedacht, Muldersdrift naby die Leeupark met ‘n ander voertuig gebots het.
“Hulle is uit die voertuig geslinger en is dood nog voordat paramedici op die toneel opgedaag het.”
Hy sê ‘n ernstig beseerde pasiënt wat in die motor vasgekeer was, is na 45 minute met die hulp van lewenskake bevry.
“Dié pasiënt en twee ander insittendes, wat geringe beserings opgedoen het, is na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere mediese hulp.”
In ‘n afsonderlike voorval het ‘n 18-jarige voetganger ‘n gedeelte van haar been verloor toe ‘n voertuig haar Saterdagaand op die R24 Tarltonpad raakgery het.
Majija sê paramedici, wat deur omstanders na die ongelukstoneel ontbied is, het die erg beseerde vrou skreeuend langs die pad gekry.
“Haar been is gedeeltelik in die ongeluk geamputeer en sy het ook buikbeserings opgedoen.”
Hy sê sy is gestabiliseer en na Leratong Hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.
“Die voertuig wat haar raakgery het was nie op die toneel nie.”
‘n 28-jarige voetganger op die R563 in Oaktree is per helikopter na Leratong Hospitaal vervoer nadat hy deur ‘n afleweringsvragmotor raakgery is.

Majija sê die man het matige harsingskudding en ‘n ernstige beenbreuk opgedoen.
“Die ongeluk het klaarblyklik gebeur toe die persoon oor die pad wou stap en onder die indruk was dat die afleweringsvragmotor by ‘n winkelkompleks wou indraai.”
Die polisie was op al drie dié ongelukstonele en sal self verder ondersoek instel na die presiese gebeure.
Vir ‘n fotogallery kliek hier.
