‘Laan’ se Xander kuier in Krugersdorp
Die akteur het 92 harte baie bly gemaak met sy kuiertjie in Krugersdorp.
Bejaardes by Pionier, Jack Cotton en President staatsbehuising was goed verras toe ‘n ster wat hulle saans op die kassie sien persoonlik by hulle kom inloer het.
Theodore Jantjies, of Xander Meintjies van die bekende Afrikaanse sepie 7de Laan het onlangs saam met die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging (ATKV) liefdadigheidsgroep, Vuurwarm Vir Charity kospakkies en toiletware aan 92 bejaardes in Krugersdorp oorhandig as deel van ‘n uitreiking in die area.
“Ons is ‘n groep jong mense en ons missie is om ‘n verskil te maak in minderbevoorregde mense se lewens,” verduidelik Vuurwarm Vir Charity stigter Anzelle Louw.
“Ons is passievol om mense te help en ‘n beter wêreld te skep. Ons identifiseer plekke wat hulp nodig het en dan raak ons betrokke deur ons tyd en energie op te offer en geld, kos en noodsaaklike produkte in te samel.”
Die groep beoog om volgende in Krugersdorp vir die kinders by Jollige Jakkers Dagsorg kospakkies te voorsien en Bybellesse aan te bied.
“Ons wil ook maandeliks babaprodukte, nuwe skooluniforms en skryfbehoeftes aankoop vir die kinders by die dagsorg,” sê Anzelle.
Om betrokke te raak of om skenkings te doen, kontak Anzelle by 082 958 7425.
