Onderwyser ryg medaljes in
Dawie Kruger was nog op die skoolbanke toe hy 'n liefde vir spiesgooi ontwikkel het.
Dawie Kruger verdien sy brood deur sy kennis oor geografie en sosiale wetenskappe aan leerlinge oor dra. Wanneer hy vir homself tyd maak is dit egter gewoonlik om sy spiesgooivaardighede te verbeter.
Die afgelope jaar het dié onderwyser van Hoërskool Noordheuwel groot prestasies in spiesgooi behaal en spog met silwer- en gouemedaljes wat hy by sportbyeenkomste verower het.
Hy vertel dat sy grootste prestasie vanjaar was om met ‘n silwermedalje by die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekbyeenkoms vir atlete in die ouderdomsgroep van 35 tot 40 jaar weg te stap.
Dawie het ook gouemedaljes by die Noordwes Meesters-, Gauteng-Noord- en Gauteng-byeenskomste ingeoes.
Hy het selfs ‘n silwermedalje losgegooi toe hy aan die Griekse diskus-item by die Gauteng-byeenkoms deelgeneem het.
Hy was nog self op die skoolbanke toe hy ‘n liefde vir spiesgooi ontwikkel het en hy ploeg reeds sewe jaar lank sy kennis van en insig in dié sport in atlete by Noordheuwel terug.
Karlien Steyn, bemarker van Noordheuwel sê dat hulle baie trots op Dawie is.
“Om ‘n afrigter van Dawie se kaliber by ons te hê is net weereens ‘n bewys van die kwaliteit afrigting en ervaring wat ons vir atlete kan bied. Ons as skool is ongelooflik trots op hom!”
