Hoof wil voortbou op sukses
Laerskool Kenmare het pas 'n nuwe hoof aangestel wat gereed is vir nuwe uitdagings.
Wouter Immelman, die nuwe hoof van Laerskool Kenmare, wil in die voetspore van sy voorgangers volg om dié skool ‘n voorloper in gehalte-onderrig te hou.
“Dit moet ‘n skool wees waar elke kind tel. Die leerlinge moet met die jongste leermateriaal toegerus wees sodat hulle die toekoms met selfvertroue tegemoet kan gaan.”
“Daarom moet ons hulle aan soveel geleenthede blootstel dat wanneer hulle by die hoërskool instap, hulle reeds ‘n idee het van wat hulle vorentoe wil probeer.”
Immelman, wat vir meer as ses jaar die hoof van Laerskool Lichtenburg in die Noordwes was, sê hy het vir die hoofpos by Kenmare aansoek gedoen omdat hy nuwe uitdagings soek.
“Wanneer ‘n mens op die platteland bly verval jy maklik in ‘n gemaksone. Die skuif na die stad is ‘n baie goeie besluit omdat daar ander uitdagings is.”
Hy sê hy gaan voortbou op die sisteme wat reeds by die skool in plek is en sal met die verloop van tyd kan agterkom of daar enige leemtes is wat aangevul kan word. “Dit lyk vir my of die skool baie goed vaar met die bestaande sisteme.”
Immelman is in Bethlehem in die Vrystaat gebore en het sy hoërskoolloopbaan in 1981 by Hoërskool Witteberg voltooi. Daarna het hy vir twee jaar by die weermag se panterskool in Bloemfontein aangesluit.
In 1984 het hy by Volkskasbank begin werk voordat hy in 1986 by die onderwyskollege ingeskryf het. Sy loopbaan in die onderwys het in 1990 begin toe by Hoërskool Akasia in Pretoria begin skoolhou het.
In 1994 het hy die departementshoof van Hoërskool Lichtenburg geword en drie jaar later ook die pos as senior koshuisvader aanvaar.
In 2000 is hy as adjunkhoof aangestel. Ses jaar later was hy die waarnemende skoolhoof en in 2007 skoolhoof van Laerskool Lichtenburg voordat sy paaie met Laerskool Kenmare s’n gekruis het.
“Ek het onderwys as ‘n loopbaan gekies omdat ek baie lief vir kinders is en dit vir my lekker is om waarde toe te voeg tot hulle en hulle ouers se lewens.”
Immelman se vrou Erika is ‘n fasiliteerder vir Afrikaans en sal by hom in Krugersdorp aansluit sodra sy ‘n pos hier kry.
Hy het drie kinders. Werner (23) is ‘n konstruksiebestuurstudent wat met sy honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria besig is, Lizelle (22) is in haar finale jaar van BCom Bedryfsielkunde aan die Noord-Wes Universiteit en sy laatlam Nienke is opgewonde om binnekort haar Graad 3-jaar by Laerskool Kenmare voort te sit.
