Pragpark in wording
The Bethany House Trust wil 'n park só ontwikkel dat dit nie net die kinders van die kinderhuis bevoordeel nie, maar ook die res van die gemeenskap.
‘n Plaaslike kinderhuis is ‘n tree nader om ‘n parkie in ‘n moderne gemeenskapsfiksheidspark te omskep.
Die Crown Foods-groep, ‘n groot verskaffer van speserye en ander voedsel-bestanddele in Suid-Afrika, het onlangs R14 600 aan The Bethany House Trust oorhandig wat tot voordeel van die kinderhuis sowel as die gemeenskap aangewend sal word.
Aubrey Girnun, kliëntediens-bestuurder van Crown Foods sê hulle het die geld aan die kinderhuis geskenk om hulle met hulle droom te help vir die Bill Taylorpark in Monument.
“Dit is vir ons fantasties om te sien hoe hulle met die kinders werk en die kinderhuis bestuur, daarom is dit vir ons ‘n groot plesier om deel van hulle projek te wees.”
Francois Buys, kantoorbestuurder van die kinderhuis sê hulle beoog om sowat R3,6 miljoen in te samel om die park oorkant die kinderhuis op so ‘n manier te ontwikkel. Die fiksheidspark sal nie net die kinders van die kinderhuis bevoordeel nie, maar ook die res van die gemeenskap.
Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het in Junie 2012 die groenlig vir die projek gegee.
Buys sê hulle het groot planne vir die park soos om ‘n heining en ‘n hek op te rig om dit veiliger te maak.
“Dit sal in die oggende oop- en in die aande toegesluit word sodat die park nie gevandaliseer word nie.”
Hy sê hulle beplan ‘n hardloopbaan, en ‘n hokkie- en sokkerveld, asook om buitemuurse fiksheidstoerusting en nuwe speeltoerusting vir kinders daar in te rig.
“Die huidige plantegroei soos die bome sal behoue bly sodat die gemeenskap met hulle honde daar kan stap of selfs piekniek hou.”
Die news daag ander besighede in die gemeenskap uit om by hierdie projek betrokke te raak en die Trust te ondersteun om ‘n veiliger en skoner park vir die gemeenskap en kinders te bied.
Vir meer inligting oor die park en hoe om betrokke te raak kontak Francois Buys by 011 660 2763.
