Diskus- en gewigstootakademie presteer
Die Akademie se atlete het uitmuntend presteer by die onlangse SA Hoërskole en Laerskole Kampioenskappe.
Die oud-Monumentaar Pierre Blignaut het twee van Suid-Afrika se nasionale senior mansatlete na die Wêreld Binnenshuise Kampioenskappe in Sopot, Pole vergesel.
Blignaut, wat deel was van die nasionale afrigtingspan in Pole, is hoofafrigter by die Pierre Blignaut Gewigstoot- en Diskus-akademie. Sy atlete oefen op Hoërskool Monument se veld.
Beide atlete het tydens die byeenkoms puik vertoon. Orazio Cremona wat voorheen deur Blignaut afgerig is, het ‘n algehele sewende plek in die finaal van die gewigstoot behaal met ‘n reuse poging van 20,49m.
Die afstand is besonders veral omdat slegs vyf ander Suid-Afrikaners verder as 20m kon gooi.
Die ander atleet, Jaco Engelbrecht wat self verlede jaar die ysterbal verder as 20m gegooi het, het 19de geëindig.
Jaco word ook deur Blignaut afgerig.
Die Akademie se atlete het ook uitmuntend presteer by die onlangse SA Hoërskole en Laerskole Kampioenskappe wat gedurende die skoolvakansie onderskeidelik in Polokwane en Paarl plaasgevind het. Altesaam nege atlete het in ‘n Gauteng-span deelgeneem en agt medaljes in die proses ingepalm.
Die volgende atlete het goed presteer: Wanzél Breytenbach en Franco van den Berg (gewigstoot) ontvang albei goud, Monnas-leerling Leandri Geel (diskus) ontvang ‘n goud, Patrick Duvenage (diskus en gewigstoot) ontvang ‘n goud en silwer, Kayle Blignaut (gewigstoot) ontvang ‘n silwer en Corne Pennels (diskus) ontvang ‘n silwer. Leandri ontvang die trofee vir beste senior dogter-veldatleet.
Die Akademie se atlete het hulle verder laat geld by die onlangse Nasionale Junior Baan- en Veld-kampioenskappe in Stellenbosch, waar drie atlete voorlopig gekwalifiseer het vir onderskeidelik die Jeug Atletiek Wêreldkampioenskappe in China en die Junior Atletiek Wêreldkampioenskappe in die VSA.
Geraldine Duvenage het met ‘n reuse poging in die diskus vir junior vroue meer as 50m ver gegooi. Sy het nie net die gouemedalje verower nie, maar ook haar plek op die vliegtuig China toe bespreek.
Asof dit die genoeg is nie, verower sy ‘n silwermedalje in die gewigstoot nadat sy deur haar spanmaat Lezaan Jordaan (ook ‘n oud-Monumentaar) geklop is. Beide atlete kwalifiseer met hul pogings van verder as 15,50m. Leandri, dogtersjeugatleet wen goud in die diskus met ‘n allemintige gooi van 49m en verseker daardeur dat sy vir beide byeenkomste in aanmerking kan kom.
Die volgende gewigstoot- en diskusatlete is gekies om Suid-Afrika later vanjaar by die Afrika Kampioenskappe te verteenwoordig nadat hulle almal medaljes verower het by die onlangse USSA Kampioenskappe in Pretoria: Geraldine Duvenage, Lezaan Jordaan, Donovan Stebbing, Jaco Engelbrecht en Dewald van Heerden.
Pierre Blignaut is ook gekies as lid van die afrigtingspan wat die studentespan gaan vergesel.
