Elke bietjie help dié winter
Lombard Bande het The Tower of Life, 'n tuiste vir haweloses besoek en komberse en kos geskenk as deel van hulle uitreikprojekte in die gemeenskap.
Dertig mense sal hierdie winter warmer kan slaap.
Lombard Bande wat al by die gemeenskap bekend is vir sy uitreikprojekte het hulle 90 Dae van Omgee-projek op ‘n hoë noot by The Tower of Life in Rissikstraat afgesluit. Daar is ook kos oorhandig.
Yolandi Heyns, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Lombard Bande sê hulle het besluit om dié niewinsgewende organisasie te help nadat hulle van hulle lief en leed te hore gekom het.
“Ons het van die projek se bestaan gehoor toe ons verlede jaar na The Bethany House Trust uitgereik het,” sê sy.
“Daarom het ons besluit om hierdie jaar by The Tower of Life betrokke te raak en te help waar ons kan.”
Janet Davidson, gemeenskapsontwikkelingsbestuurder van die organisasie sê hulle is baie dankbaar vir elke bietjie wat hulle van die gemeenskap ontvang.
“Die mense wat hier bly is streng gesproke haweloos. Van hulle het van die platteland af stad toe gekom met die hoop op ‘n beter lewe, maar het toe besef dat werkloosheid hier ook ‘n groot uitdaging is.”
Sy verduidelik dat hulle met die donasies wat hulle ontvang tot sowat 70 mense kan huisves wat een keer per dag kos kry.
“Dit is op die oomblik al wat ons hulle kan bied. Ons sal graag drie etes per dag wil verskaf, maar ons kan dit nie bybring nie.”
Davidson sê daar is twee dames wat elke dag vir die mense kos kook terwyl dertien van die haweloses sorg dat die saal waarin hulle slaap skoon gehou word. Hulle verrig ook ander takies deur die dag.
Heyns en haar kollega Celeste Watt sê na hulle uitreik-aksie besef hulle nog meer hoe baie hulle het om voor dankbaar te wees.
“Dit het ons baie nederig laat voel. Dit is wonderlik om te sien dat mense soos dié die haweloses van ons dorp met kos en slaapplek help, veral in die koue wat ons nou beleef,” sê Heyns.
“Hulle doen eerlikwaar baie goeie werk waarop hulle trots kan wees.”
Sy sê dit was vir hulle ‘n plesier om betrokke te raak.
Vir meer inligting oor The Tower of Life kontak Davidson by 011 660 4610 of per epos by janet@childincrisis.org.za.
Verwante artikels:
• Lombard Bande vertroetel vierpotiges
• Lombard Bande gee ‘n motor weg
