Local newsNews

Deon Barnard sterf na motorongeluk

"Hy kon moontlik uitgeswaai het vir ’n dier omdat hy so ’n groot diereliefhebber was of moontlik ’n hartaanval of beroerte gekry het."

’n Doktor wat veral baanbrekerswerk op die gebied van pluimveevoeding gedoen het, het Saterdag 14 Junie kort na ’n ongeluk op die N4 gesterf.

Dr Deon Barnard (62) was op pad terug huis toe in Krugersdorp na ’n vakansie in die Nasionale Kruger Wildtuin toe sy voertuig naby die Fonteinstraat-afrit die pad verlaat en waarskynlik ’n betonblok getref het.

Hy is met sy aankoms by die Life Midmed Hospitaal dood verklaar.

Barnard se skoondogter, Trish, sê hulle weet nog nie wat die ongeluk veroorsaak het nie.

“Hy was ’n baie verantwoordelike bestuurder en het ’n gesonde leefstyl gevolg. Hy kon moontlik uitgeswaai het vir ’n dier omdat hy so ’n groot diereliefhebber was of moontlik ’n hartaanval of beroerte gekry het. Ons is nog in die duister.”

Barnard was die Uitvoerende Amptenaar: Voeding in die pluimvee-afdeling van Astral Foods Beperk. Hy was verantwoordelik vir die navorsing en ontwikkeling van pluimveevoeding en die evaluering en kontrolering van die bestanddele.

In ’n persverklaring deur Astral Foods het hul Hoof Uitvoerende Beampte, Chris Schutte gesê dat Barnard ’n hoogs gekwalifiseerde en wêreldbekende tegniese spesialis in pluimveevoeding en -ontwikkeling was.

“Hy was ’n deskundige in sy veld en was vir meer as 30 jaar sekretaris en tesourier van die Suid-Afrikaanse tak van die Wêreld Pluimveewetenskapvereniging . Sy dood is ’n tragiese verlies.”

Barnard se vrou, Pauline, is sowat sewe maande gelede aan kanker oorlede. Sy het as mediese dokter onder haar nooiensvan, Van Heerden, gepraktiseer.

‘n Gedenkdiens word op Vrydag 20 Junie vir Barnard gehou in die Rant-en-Dal Gemeenskapskerk, h/v Swallow- en Eaglestraat, Rant-en-Dal in Krugersdorp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button