Vertroetel hierdie diere dié skoolvakansie
Wanneer die verveling by die huis te veel word kan kinders én ouers die diere by Fora 'n bietjie gaan bederf en vertroetel.
Die gelag van kinders het deur die Friends of Rescued Animals (Fora) se perseel weergalm toe 14 leerlinge van Hoërskool Monument se Graad 8E-klas daar gekuier het.
Vanessa Hollander, die voogonderwyseres van dié klas sê die leerlinge het jaarliks ‘n klasprojek waar hulle na die gemeenskap moet uitreik.

“Hierdie jaar is daar besluit om die diere by hierdie diereskut te bederf. Elke leerling in die klas moes iets vir die diere bring wat ons aan hulle oorhandig het.”
Daar is honde- en katkos, speelgoed, lekkernye en enigiets wat leerlinge kon bring na die diereskut geneem. Elke leerling het ook drie honde vir stappies te neem.
“Ek dink die kinders het die uitreikaksie baie meer as die honde geniet,” skerts Hollander.
“Hulle was omtrent twee uur lank besig voordat selfs die katte en klein hondjies bietjie vertroetel is.”

Sy sê dit leer die leerlinge dat dit beter is om eerder ‘n hond aan te neem as om een by die winkel te gaan koop.
“Baie leerlinge het aangedui dat hulle gedurende die skoolvakansies terugkom.”
Sharné Cronjé, ‘n leerling, sê dit was haar eerste besoek aan Fora en sy het dit vreeslik geniet.
“Ek gaan beslis weer hierheen kom om met die diere te stap. Om die diere in die hokke te sien maak my hartseer en ek wou hulle almal sommer saam met my huis toe vat.”

Ruben Hensberg van Fora sê hulle huisves tans sowat 200 honde en 120 katte en is dankbaar vir elke bietjie wat hulle van die gemeenskap kry.
Hy sê hulle het altyd honde- en katkos asook katsand nodig.
“Komberse, skoonmaakmiddels en enigiets waarmee mense ons kan help sal welkom wees.”
Ouers en kinders wat nie weet hoe om hierdie skoolvakansie besig te bly nie kan na Fora toe gaan en die huppel in die honde se stap terugbring.
“Dit help ons by Fora ook, want dit laat die diere met ander diere sowel as met verskillende mense sosialiseer,” verduidelik Hensburg.
Fora is reg deur die week van Maandae tot Vrydae van 8vm tot 5nm oop. Op Saterdae staan die deure van 8vm tot 3nm en Sondae, insluitende publieke vakansiedae, van 8vm tot 1nm oop.
