Hospice se wintermark suksesvol
Hospice sou graag meer voete daar wou hê, maar sê hulle is dankbaar vir almal wat hulle ondersteun het.
Honderde besoekers was by hierdie jaar se Hospice Wes-Gauteng Wintermark te sien toe mense van heinde en ver gekom het om dié dag te ondersteun en te geniet.
Daar was verskillende stalletjies wat ‘n verskeidenheid goedere te koop aangebied het. Vir die kinders was daar baie lekkers te koop en ‘n springkasteel waarop hulle kon baljaar. Die geur van pannekoek, boerewors en potjiekos het in die lug gehang.

Renzia Van Zyl, die bemarkingskoördineerder van dié tak, wat palliatiewe sorg bied vir mense met terminale siektes, sê die dag was ‘n groot sukses.
“Hoewel ons dankbaar is oor die aantal mense wat ons hier gehad het, sou ons baie graag meer voete wou sien. Ek dink die koue weer het die mense weggehou.”
Die wintermarkdag is ‘n projek om geld vir die tak in te samel sodat pasiënte steeds die nodige mediese sorg en medisyne kan ontvang.

“Ons het altyd hulp van die gemeenskap nodig sodat hierdie pasiënte hulle lewe steeds kan geniet.”
‘n Potjiekoskompetisie is gehou waartydens nege deelnemers met vleis, groente en geheime bestanddele teen mekaar gekompeteer het.
Drie wenners is aangewys wat pryse van Mogale Country Lodge en Cattle Baron Restaurant ontvang het.
Blikkies Blignaut van Benoni sê hy het by ‘n vriend van Hospice se wintermark gehoor.

“Ek ondersteun graag hulle projekte en help hulle waar ek kan,” sê hy.
Van Zyl sê sy hoop almal wat die dag saam met hulle spandeer het, het dit net so baie soos hulle geniet.
“Ons as ‘n tak bedank graag almal wat ons ondersteun het en gehelp het om die dag moontlik te maak.”

Sy sê die wintermark sal ‘n jaarlikse instelling wees en hoop om dit volgende keer op ‘n groter perseel te kan hou.
Vir meer inligting oor Hospice kan die kantoor by 011 953 4863 gekontak word.
