Verpleegsters verleen hulp in Rustenburg
Na die vyf maande lange staking in die platinumbedryf het Verpleegsorg 2000 hulp verleen aan die behoeftiges van Rustenburg.
Verpleegsorg 2000 is ‘n tuisverpleegsorgpraktyk wat 14 jaar gelede gestig is. Hul visie is om bekostigbare mediese dienste te lewer in die pasiënt se eie tuiste.
“Die pasiënte kom nie na ons toe nie maar ons gaan na die pasiënte toe,” sê suster Trudie Swart.
Hierdie sorgpraktyk pak van tyd tot tyd gemeenskapsprojekte aan. “Ons wil ‘n verskil maak in hoe mense oor verpleging en gesondheidsorg voel. Verpleging kom uit die hart en dan volg die kennis en vaardigheid.”
Swart noem dat die personeel baie na aan God lewe en hul geloof is die dryfveer in die praktyk.
“Ons is net instrumente in God se hande.”
Een van die gemeenskapsprojekte wat hulle aangepak het, was in Rustenburg. Swart noem dat dit ‘n duidelike boodskap van God was om hierdie gemeenskap te help.
“Loof die Heer met jou talente,” sê Swart. Dit is ook die slagspreuk op die span se T-hemde.
Verpleegsorg 2000 het met die hulp van dokter Annelie Basson van Empilweni Verpleegkollege, Elsa Benadi van Lenmed Hospitaal asook Lenmed Apteek noodsaaklike voorraad geskenk. Hettie Genis van Occupational Health and Safety Solutions het ook voorraad en brandstof geskenk.
“Die instansies het hulle harte oopgemaak en sodoende kon ons weereens ons diens en vaardigheid na die mense in Rustenburg neem. Ons het hande gevat met die Staan Saam organisasie. Wat ‘n voorreg om Rustenburg en sy mense te kon dien.”
Die span bestaan uit suster Swart (die eienaar van Verpleegsorg 2000) wat 30 jaar verpleegondervinding het en ook as primêre gesondheidsorgverpleegkundige geregistreer is, asook Marietjie Coombs wat al langer as 30 jaar ‘n geregistreerde verpleegkundige is.
Luzinda Human, ‘n stafverpleegster met drie jaar ondervinding, Mary Fritz, ‘n uitgetrede assistentverpleegster en Susan Lyons, ‘n traumaberader is ook in die span.
Rietjie Pieterse het al die admin hanteer en Arista van Rooyen is die bemarker.
“Ons Rustenburg-projek was ‘n groot sukses en ons gaan beslis weer terug om dienste te lewer. Min mense het geweet ons is daar maar tog het ons 70 mense binne twee dae gehelp.
“Dankie Staan Saam en die mense van Rustenburg wat ons ‘n kans gegee het om julle te kon dien met ons kennis en vaardigheid,” eindig Swart.
Vir meer inligting oor Verpleegsorg 2000, skakel Swart by 071 330 9656.
