Vuurwarm vir Charity
'n Groep modelle het hul hande vuil gemaak om 'n vaal kleuterskool op te knap.
Vir ‘n klompie kleuters van Krugersdorp-Wes was dit soos toorkuns om te sien hoe hul skool van vaal na ‘n wêreld van helder kleure verander.
ATKV-liefdadigheidsorganisasie Vuurwarm vir Charity en bekende TV-persoonlikheid Angelique Gerber het onlangs die Jollige Jakkers kleuterskool besoek en die nood vir opknapping raakgesien.
Die bal is aan die rol gesit en Maandag het 54 verwers – wat ook finaliste in Gerber se Apprentesses of Angelique Gerber is – met verf en kwas aan die werk gespring om kleurvolle tekenprentkarakters op die skool se mure te verf.
Die BLCK-groep, ‘n afdeling van Gerber se bemarkingspan, het ook gehelp.
BLCK-bemarkingsdirekteur Deon van Wyk verduidelik dat Vuurwarm vir Charity een van Gerber se voorkeur liefdadigheidsorganisasies is en dat sy die 54 finaliste ingespan het om die skool te verf.
Die 54 meisies maak deel uit van 70 finaliste wat by verskeie liefdadigheidsprojekte landwyd betrokke sal wees om in aanmerking te kom vir die Apprentesses for Angelique Gerber titel.
