Regte hondjiekos hou ‘n huppel in hul stap
Daar is verskillende soorte kos op die mark beskikbaar spesifiek vir die klein hondjies en dit is belangrik om vir hulle die regte kos te gee.
Klein hondjies se mannewales is genoeg om ’n glimlag op enige een se gesig te sit.
Om die huppel in dié hondjies se stap te hou, begin by hulle kos, sê Andia Martignone – bestuurder van Catbox Pet Hyper in Key West Winkelsentrum.
“Daar is verskillende soorte kos spesifiek vir klein hondjies op die mark beskikbaar en dit is belangrik om vir hulle die regte kos te gee.”
Sy sê klein hondjies moet reeds die regte kos ontvang wanneer hulle nog in die teef se baarmoeder is.
“Die mensebase moet weke voordat die hondjies gebore word vir die teef kleinhondjiekos gee. Daarna moet sy steeds dié kos kry – dit sal help dat die hondjies genoeg voedingstowwe in hulle melk kry.”
Sodra die hondjies vier weke oud is kan hulle dieselfde kleinhondjiekos as die teef as byvoeding kry. Dit moet met water vir hulle sag gemaak word, sê Martignone.
“Die kos sal die hondjies help om diaree te voorkom.”
Sy sê dat hierdie kos baie belangrik vir die hondjies se groei is omdat dit hoër in proteïne, vet en kalsium is.
Oor hoe dit honde-eienaars se sak gaan raak sê sy dat daar verskillende kleinhondjiekos op die mark beskikbaar is wat elkeen se sak sal pas.
“Honde-eienaars moet liefs nie vir die klein hondjies mieliepap of bene gee nie,” sê Martignone.
“Die mieliepap bevat geen voedingswaarde vir die hondjies nie, die bene kan in hulle kele vassit en groot skade aanrig.”
Martignone gee die volgende groeifase wenke vir kleinhondjie-eienaars om seker te maak dat hulle vierpotiges tot gelukkige volwassenes groei.
• Klein honde rasse (onder 10kg) bereik volwassenheid binne 10 maande en kan tot en met daardie tydperk op die kleinhondjiekos bly.
• Medium honde rasse (tussen 10 en 25kg) neem een jaar om volwassenheid te bereik en moet daarom vir ‘n jaar lank op kleinhondjiekos bly.
• Groot honde rasse (meer as 25kg) moet op kleinhondjiekos bly totdat hulle volwassenheid in twee jaar bereik het.
