Monnas-sportsterre maak naam
Monnas se sportmanne en vroue ryg prestasies in.
Vir Hoƫrskool Monument se sportmanne en -vroue is dit nie genoeg om net op plaaslike vlak te presteer nie.
Die skool se onlangse prestasies bewys hul erns om nasionaal en internasionaal naam te maak.
Die skool se sportsterre het onder meer die volgende prestasies op hulle kerfstok:
Rugby
Rhyno Herbst en Len Massyn word in die Suid-Afrikaanse skole-oefengroep van 50 ingesluit wat in Kempton Park aan die finale rugbyproewe gaan deelneem.
Atletiek
Julia du Plessis word ingesluit in die senior Suid-Afrikanse atletiekspan wat aan die Afrika Kampioenskappe gaan deelneem wat in Marokko plaasvind.
Ruitersport
Jean-Marie Carstens verwerf Wes-Gauteng kleure tydens die interskole-perdrykompetisie en gaan haar provinsie later in Augustus by die nasionale kampioenskappe verteenwoordig.
Skaak
Johan Sadie en Leandra Brits het aan die Suid-Afrikaanse Individuele Skaakkampioenskappe deelgeneem wat in Bloemfontein plaasgevind het. Johan het daar ‘n gouemedalje verower terwyl Leandra ‘n silwermedalje ontvang het.
Judo
Willem Truter en Clarissa Prinsloo het gedurende die onlangse skoolvakansie aan die SA Judo Kampioenskappe in Port Elizabeth gaan deelneem. Willem ontvang twee gouemedaljes terwyl Clarissa met een silwer- en een bronsmedalje wegstap.
