Lente-staproetes
Kom skep weer asem soos wat die natuur begin regmaak vir lente.
Soos die koue begin verdwyn en bloeisels hul verskyning maak, kan ‘n verfrissende staptog ‘n mens weer herlaai vir die lente-maande wat voorlê.
Die Krugersdorpse Stapklub bied twee roetes aan vir August en September.
Op 9 Augustus word daar by Kloofendal gestap.
Hierdie is ‘n gemaklike, lekker, pragtige en veilige roete. Dit is hoe stappers hierdie roete beskryf, want van al die nabye roetes, is hierdie stap werklik ‘n ontspanning vir siel en liggaam.
Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie, en al lê dit in die middel van die woongebiede, is dit tog afgesonderd en rustig, en baie mooi.
Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes. Dit is gratis om daar te gaan stap, en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat die roete nie geniet nie.
Kingskloof word vir 13 September beplan.
Hierdie is ‘n nuwe roete vir die klub. Die roete lê grotendeels agter die berg, naby Oaktree. Toegangsgeld is R30 per persoon en motors word veilig agter ‘n hek parkeer.
Daar word eers in die rigting van die berg gestap, en al lyk dit aanvaklik ver, is dit ‘n maklike gelyk stap, verby ‘n plaasdam waar daar ook kleedkamers is. Daar word al langs die spruitjie na die berg se kant toe tot by die waterval gestap. Dit is werklik ‘n fantastiese roete en ‘n plesier om te stap. Daar is op pad geen bome as skuiling as dit baie warm sou word nie. Water en ‘n hoed sal dus noodsaaklik wees.
Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.
