Nories palm Noordvaal-trofeë in
Noordheuwel-hokkie se eerste- en onder 16-seunspan het die skool se naam tydens die onlangse Noordvaal-toernooi hoog gehou.
Hoërskool Noordheuwel het onlangs by die Noordvaal-hokkietoernooi koning gekraai toe twee van hul spanne die toernooi gewen het.
Noordheuwel se seunseerstespan het in 2013 as wenners uit die stryd getree en het hierdie jaar as die verdedigende kampioen aan die toernooi deelgeneem.
Nadat die eerstespan met Waterkloof (2-1), Transvalia (2-0) en Uplands (2-1) in die kwartfinaal afgereken het, het hulle teen Eldoraigne in die semifinaal gespeel. Die eindtelling was ‘n skitterende 8-2.
In die finaal het Noordheuwel teen Krugersdorp High School te staan gekom en met 1-0 gewen.
Noordheuwel se onder 16-seunspan het hul poelwedstryde teen Sasolburg (2-1) en Ben Viljoen (2-0) gewen. In die kwartfinaal speel hulle teen Krugersdorp High School en wen 3-0 waarna hulle in die semifinaal teen Nelspruit speel en 3-2 wen.
Na ‘n harde wedstryd teen Garsfontein in die finaal was die eindtelling steeds 0-0, maar Noordheuwel het in ekstra tyd ‘n doel aangeteken en 1-0 gewen.
Noordheuwel, wat bekend is vir sy uitmuntende hokkie, spog nou ook met sy eie astro-hokkiebaan.
Volgens Nories se hokkie-afrigters is dit ‘n droom wat waar geword het en die twee trofeë van die naweek is die belonging vir hulle harde werk.
