Local newsNews

Na 100 jaar steeds perdfris en gesond

100 years old, 100 jaar oud, silverfields, barbara krynaw, eerste wereld oorlog, first world war, krugersdorp, krugersdorp news, krugersdorp nuus

In die geselskap van vriende en familie en met allerhande lekkernye het Barbara Krynaw van Silverfields op 13 Augustus haar 100ste verjaardag tuis gevier.

“Ek kan dit nie glo nie,” sê sy met ‘n vonkel in haar oë. “Ek voel regtig wonderlik! As ‘n jong meisie het ek altyd gedink ek sal vroeg doodgaan en hier is ek nog springlewendig en gesond.”

Familielede sê grappenderwys dat sy van goeie stoffasie is, want sy het al talle staatsmanne, konings en koninginne sowel as wêreldwye epidemies en albei die groot wêreldoorloë oorleef.

“Ek dink my wenresep om hierdie ouderdom te bereik is dat ek nooit stilsit nie; ek bly heeltyd besig.”

Sy vertel dat al is haar oë besig om te verswak, sy steeds daarvan hou om ‘n goeie boek te lees en in die kombuis doenig te wees.

Oor al die geskenke wat sy ontvang het, sê sy dat sy nie alles gaan hou nie.

“As ek sien ek het nie van die geskenke nodig nie, gaan ek dit vir liefdadigheid gee. Ek is lief daarvoor om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak.”

Krynaw is op 13 Augustus 1914 in die Waterberge naby Nylstroom gebore. Daardie jaar het Afrikaans ook vir die eerste keer amptelik erkenning in die Kaapse Provinsiale Raad gekry toe die digter en skrywer CJ Langenhoven die raad in Afrikaans toegespreek het.

In daardie jaar is Kimberley se “groot gat” vir mynbedrywighede gesluit en het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek.

Haar lewensmaat Joe, wat ‘n vriend van haar beste vriendin se broer was het ook nie gras onder sy voete laat groei nie en het sommer die aand van hulle ontmoeting in 1930 reeds ‘n soen probeer steel.

Twee jaar later in 1932 vra hy haar die groot vraag en hulle lewe as getroudes begin saam. In 1987 koop hulle die huis in Silverfields toe Joe op die ouderdom van 60 afgetree het. Hy sterf jare later aan emfiseem.

Die 100-jarige Barbara Krynaw (middel) saam met haar twee susters Rita Scott, 76, (links) en Hilda Ras, 90, (regs).
Die 100-jarige Barbara Krynaw (middel) saam met haar twee susters Rita Scott, 76, (links) en Hilda Ras, 90, (regs).

Toe Krynaw tagtig jaar oud word, wou die dokters ‘n hartoorplanting doen, maar sy het geweier. Haar eie hart klop steeds warm en vol liefde vir almal om haar.

Sy wel ‘n heupvervanging gehad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button