Editor's choiceLocal newsNewsSchools

Blus boelies se afknouvuur reeds vroeg

Vier skole vorm deel van 'n program om afknouery reeds van vroeg af in die kiem te smoor.

Woorde kan ‘n mens óf opbou óf breek.

Met hierdie woorde het dr Rodney Seale, ‘n spreker en berader leerlinge van verskillende laerskole in Krugersdorp oor afknouery toegespreek.

Laerskole Krugersdorp-Noord, Millennium, Protearif en Kenmare is genader om deel te vorm van ‘n program waar die verskillende tipes afknouery vanjaar in graadverband bespreek sal word.

Pi Pretorius, ‘n jeugmentor van The Bethany House Trust in Monument sê hulle het met die Krugersdorp Kinderhuis in Krugersdorp-Noord hande gevat om probleme wat verband hou met afknouery in skole vas te vat. Hulle gaan Seale se boek Genoeg is genoeg as handleiding gebruik.

Seale het aan die leerlinge verduidelik dat woorde soos pyle is.

“Met woorde kan jy ander mense om jou seermaak. Ons moet mekaar eerder met liefde en ondersteuning bystaan.”

Hy het voorts gesê dat die leerlinge hulself in die boelie én slagoffer se skoene moet plaas.

“Boelies gebruik baie maniere om ander mense af te knou. Dit kan wees deur seermaakwoorde vir jou te sê, per boodskap aan jou te stuur of selfs vir jou te lag.”

Seale sê leerlinge moet in plaas daarvan om terug te staan, opstaan vir hulself of vir dié wat geboelie word.

“Moenie saamlag of ‘n boelie los om ander af te knou nie!”

Hy het aan leerlinge gesê dat boelies gewoonlik jaloers op ander is en dan afknouery gebruik om beter oor hulself te voel.

“Moet nooit dat iemand jou wysmaak dat jy niks daaraan kan doen nie, want jy kan.”

Eugene Grobler, hoof van Laerskool Millennium sê hy is baie opgewonde oor die program. “As ‘n skool kan ‘n mens nie boelies ignoreer nie, maar wat jy ook al doen, daar sal altyd boelies wees.”

Hy sê dit is net ‘n proses om die boelies te identifiseer omdat hulle nie soos boelies lyk nie.

“Ons het beraders op die skoolterrein wat met slagoffers en boelies werk. Vir leerlinge wat voel hulle het iets op die hart het ons ‘n posbus – Helpmekaar – op die skoolterrein waarin leerlinge briefies kan plaas en so hulle probleme met ons deel.”

Hy sê skole kan nie die probleem van boelies ignoreer nie, want dit kan later nog groter probleme veroorsaak.

Seale sê as afknouery nie vroeg in die kiem gesmoor word nie, kan mens die letsels daarvan tot in volwassenheid dra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button