Video: Monnas-rugbymanne maak geskiedenis
Dit is die eerste keer in die skool se bestaan dat sy rugbyspelers so skoonskip maak.
Hoërskool Monument het vir sy eie stukkie geskiedenis gesorg toe al drie sy junior spanne met die louere weggestap het gedurende die eindstryd om een van die mees gesogte titels in skolerugby – die Beeldtrofee.
Die onder 16-span het EG Jansen met 27-24 geklop. Die onder 15-manne het EG Jansen op ’n drafstap 32-20 gewen en die onder 14-kannetjies het die eerste trofee van die dag met 27-15 teen Garsfontein gewen.

“Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat drie van ons spanne dit tot by die eindstryd maak. Die spelers maak die skool uiters trots,” sê Monnas-woordvoerder Eben Vermaas.
Die volgende Monnas-rugbymanne is ook onderskeidelik as spelers van die wedstryd aangewys:
• onder 16: Stut Nathan McBeth
• onder 15: Senter Brendon Buitendag
• onder 14: Agsteman Henry Fourie
Die eerstespan het ook ‘n noemenswaardige sege in eie reg gevier toe hul vroeg in die reeks hul Wes-Randse teenstander Florida 32-19 gewen het.
Kyk gerus na netwerk24 se video van hoogtepunte gedurende die drie Monnas-wedstryde, deur hier te kliek.

