Familie laat die hare waai
Enid von Abo se gesin, familie en dié se vriende het besluit om haar in hierdie moeilike tyd te ondersteun deur ook hulle hare af te skeer.
Enid von Abo is 40 jaar oud, woon in Roodekrans en het ‘n pragtige gesin. Maar in 2013 het sy die nuus ontvang dat sy ‘n breingewas het en in November daardie jaar is dit verwyder.
In Mei vanjaar is nog ‘n gewas ontdek en in Junie is sy gediagnoseer met fase 4-breinkanker. Die dokter het vir Von Abo gesê sy het ongeveer een jaar oor en dat hulle ‘n wonderwerk nodig het.
Von Abo is ‘n ambisieuse besigheidsvrou en ‘n senior verkoopsbestuurder by ‘n maatskappy in Bryanston. Sy staan sterk in haar geloof en glo dat sy haar wonderwerk gaan kry waarop die dokters hoop. Sy is ook ‘n ma van drie en kan met trots sê dat haar familie en vriende haar in elke moontlike situasie ondersteun.

Toe haar hare begin uitval as gevolg van die behandeling wat sy ontvang, het sy besluit om dit te laat afskeer.
Haar gesin, familie en dié se vriende het toe besluit om Von Abo in hierdie moeilike tyd te ondersteun en het op Saterdag 23 Augustus saam met Von Abo by Salon Chalandre in Noordheuwel bymekaargekom om hulle hare ook te laat af skeer.
Altesaam 15 familielede en vriende het saam met Von Abo die hare laat waai. Later daardie dag is Von Abo ook bederf met ‘n grimeer- en fotosessie by ‘n plaaslike lodge.
Maar dit is nie al nie.
Von Abo se ma en haar sussies het so ‘n ruk gelede vir ongeveer ‘n week saamgekuier en die laaste middag van die wegbreektydjie het haar sussie Charlene vir elkeen ‘n bandjie met ‘n kruis daaraan gegee. Die bandjie dien as ‘n aandenking van die week wat hulle saam was en om hul sussie aan hulle ondersteuning te herinner.

“Ek het begin wonder of ek die bandjies moet verkoop om geld vir haar in te samel nadat ek een oggend ‘n navraag vir so ‘n bandjie op haar facebook-ondersteunersblad gekry het. Ek het dit gesien as ‘n teken dat dit kan werk. Ek het dadelik die bandjies begin adverteer teen ‘n donasie van R100 en ons het so al R13 000 ingesamel,” sê Donna Bothma, Von Abo se ander sussie.
Von Abo kry addisionele behandeling waarvan die eerste gedeelte R30 000 gekos het – ‘n bedrag wat hulle mediese fonds ongelukkig nie dek nie.
Deur hierdie familie-inisiatief wil hulle ook meer bewustheid skep rakende kanker en hoe dit nie net die pasiënt se lewe affekteer nie, maar die familie s’n ook. Die lewenslesse wat uit hierdie situasie geleer word, is nie altyd die maklikste nie, maar die ondersteuning van familie en vriende is goud werd.
Wil jy meer betrokke raak?
Besoek gerus die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se webtuiste by www.cansa.org.za en ondersteun hulle veldtogte – want kanker kan oorwin word.
