Wes-Rander wen brons by taai boogskiet-wêreldkampioenskap
André Martignone, voorsitter van die Wes-Rand Boogskietklub voel klaar reg om aan die volgende wêreldkampioenskap oor twee jaar in Australië deel te neem.
Om met die wêreld se beste boogskutte mee te ding – en dit nog in gure weer – is nie vir sissies nie.
Voorsitter van die Wes-Rand Boogskietklub André Martignone kan daarvan getuig.
Hy was onlangs die enigste deelnemer van die Wes-Rand wat saam met nog 17 Proteaspanlede van reg oor die land aan die Wêreld Veldboogkampioenskappe in Yankton in die VSA deelgeneem het.
Meer as 200 boogskutte van 17 lande van regoor die wêreld het deelgeneem aan dié kompetisie wat deur die Internasionale Veldboogvereniging (Ifaa) aangebied is.
Ten spyte van die nat weer het Suid-Afrika 17 medaljes ingepalm en boonop drie nuwe wêreldrekords opgestel.
“Die kompetisie was vir my baie gesond, maar ook baie taai omdat die wedstrydplan moes verander,” sê Martignone wat in sy eerste wêreldkampioenskappe in spanverband met ‘n bronsmedalje weggestap het.
“Dit was vir my baie leersaam omdat ek ook die geleentheid gekry het om by die bestes te leer. Elke deelnemer het hulle eie styl en manier van dinge doen en daaruit kan ‘n mens self iets by jou styl voeg.”
Hy het ‘n algehele vyfde plek behaal in die Veteran Male Freestyle Unlimited, ‘n kategorie vir deelnemers oor 55 jaar oud.
Martignone en sy boog het na die kompetisie nog nie aan rus gedink nie.
“Ek is reg om oor twee jaar weer aan dié kompetisie deel te neem. My plek daarvoor is klaar bespreek,” lag hy.
Enigiemand wat belangstel om by die boogskietklub aan te sluit kan Martignone by 082 324 4798 of vir Herbert Maier (klubsekretaris) by 082 568 4040 kontak.
Verwante stories:
