By Laerskool Krugersdorp-Noord word daar nie net klas gegee oor hoe maklik dit is om geld te maak nie – dit word sommer prakties toegepas.
Marinus de Beer, adjunkhoof en onderwyser in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe sê dit is maklik om die begrip oor hoe om ‘n kop vir besigheid en syfers te hê aan leerlinge te verduidelik, maar dit help niks as hulle dit nie self probeer nie.

Daarom, in samewerking met die Gautengse Onderwysdepartement, word daar jaarliks ‘n Entrepreneursdag vir Graad 7-leerlinge gehou sodat hulle kan sien hoeveel beplanning dit werklik verg om ‘n suksesvolle besigheid te bedryf.
“Ons probeer die Entrepreneursdag so na as moontlik aan ‘n regte besigheid hou. Die leerlinge moet vennootskappe aangaan, ‘n begroting opstel en beplanning doen.”

Hy sê gedurende die beplanningsproses het verskeie vennootskappe ontbind – iets wat gereeld in die besigheidswêreld gebeur.
Melindi de Jager, Dylan Geyser en Tom Turner is die vennote van die Pretville-stalletjie waar leerlinge onder andere hulle frustrasies met ‘n hamer op ‘n karwrak kon uithaal.
Melindi sê die klasoefening het hulle baie geleer van produkte aanbied en verkoop, en voorraad aankoop.

“‘n Mens se beplanning moet goed wees. Jy kan nie mense probeer indoen omdat jy jou geld wil terugmaak maar nie reg beplan het nie,” sê sy.
Tom sê dit is harde werk om ‘n besigheid te bestuur.
“‘n Mens is die heeltyd besig om jou klante gelukkig te hou.”
Ander stalletjies wat die news se aandag getrek het was die stalletjies Frootlooze, The Mickey Mouse Club House en Bould a Pancake.
Die leerlinge het almal saamgestem dat die lekkerste deel van die dag die winsverdeling sou wees.

De Beer sê die Entrepreneursdag tel 50 punte aan die einde van die kwartaal en word bereken op grond van hoe hulle beplanning en begroting voorgelê is.
