Sit ‘n huppel in jou stap
Skud die winter stof af en skep weer asem.
Die Krugersdorpse Stapklub se roetes vir September en Oktober is dalk presies wat jy nodig het om die huppel in jou stap terug te sit.
Op 13 September word Kingskloof aangepak.
Dit is ‘n relatief nuwe roete en is grotendeels agter die berg naby Oaktree geleë. Daar is toegangsgeld van R30 per persoon, en motors word veilig agter die hek parkeer. Aan die begin word in die berg se rigting gestap en al lyk dit ver is dit ‘n gemaklike gelyk stap, verby ‘n plaasdam waar daar kleedkamers is. Daar word al met die spruitjie langs gestap. Oor die berg stap almal terug tot by die waterval, en dan terug na die beginpunt waar die motors staan. Dit is werklik ‘n fantastiese roete en ‘n plesier om te stap. Daar is lang ente sonder bome wat skuiling kan bied teen die warm son. Drinkwater asook ‘n hoed is dus ‘n moet.
Op 11 Oktober word Kranskloof gestap.
Die roete is naby Buffelspoort-vakansieoord, en klimaatsgewys ook omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is dan in die kloof.
Wat ‘n aangename verrassing! Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op, alles is daar.
Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet, maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Vir verdere inligting oor die stapklub en hul roetes, skakel vir Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
