Curro Krugersdorp nat en koud vir goeie doel
Curro Krugersdorp se leerkragte het die uitdaging aanvaar om voor 'n hele saal vol leerlinge en ander onderwysers met water en ys natgegooi te word.
Drie leerkragte van Curro Krugersdorp het die koue en nattigheid vir ‘n goeie doel getrotseer.
Onderwysers Peet Brits, Dawie Bëhr en skoolhoof Annemarie Lombard is onlangs vir die Ice Bucket Challenge uitgedaag en het soos ‘n man (en vrou) die uitdaging voor die hele skool aanvaar en uitgevoer.
Die Ice Bucket Challenge, ‘n nuwe gier op sosiale media word gedoen om bewustheid te kweek rondom amiotrofiese laterale sklerose (ALS) waaronder motorneuronsiekte ressorteer.

Dié siekte tas die motorneurons in die liggaam aan. Dit is die selle wat die spiere beheer wat ‘n mens in staat stel om te praat, loop, sluk en algemene beweging uit te voer.
Volgens die reëls van die uitdaging het mense 24 uur tyd nadat hulle uitgedaag is, om die hele proses met ‘n video-opnemer soos ‘n selfoon of tabletkamera vas te vang en dan op sosiale media te laai waar drie ander persone dan in die video uitgedaag word.
Wendy Weiring, ‘n onderwyser by Curro het tydens die Graad 6-leiersidentifiseringskamp die vuur aangesteek toe sy haar ander kollegas uitgedaag het.

Bëhr, Brits en Lombard is dit almal eens dat die uitdaging beslis koud, maar tog verfrissend was.
“‘n Mens se liggaam verwag dit nie – jy voel die skok op jou lyf en snak na jou asem,” sê Bëhr.
Hy het twee ouers en ‘n onderwyser van Laerskool Kenmare uitgedaag.
Brits sê dit is eintlik baie verfrissend wanneer die yswater jou tref.
“Hierdie is vir ‘n goeie doel, want soveel mense word deur die siekte geraak en dit is belangrik om ‘n bydrae tot bewusmaking te lewer.”

Lombard sê vir haar was dit ‘n baie interessante ervaring.
“‘n Mens voel sommer hoe jou liggaam weer vanself warm word. Dit is beslis ‘n ervaring wat elkeen moet meemaak – ook omdat dit vir ‘n goeie doel gaan.”
Sy het drie skoolhoofde genomineer.
“Ons sal sien of hulle dit gaan uitvoer en deel van die goeie gees gaan word. Dit is ‘n goeie manier om vir ander mense in die gemeenskap en vir ons leerlinge te wys dat ons omgee.”
Al drie leerkragte gaan ‘n skenking aan die Krugersdorpse motorneuronsiektelyer Deon Nel doen.
